Kosstories

Tatta,ma tjips

Die verleidelike geur van braaivleis hang in die lug: skaaptjops met so ’n lekker blink vetrandjie, ’n plomp bol pap, en o, daardie tamatiesmoor met die titsel heuning in …

Maar hier sit jy met jou slaaiblare en wortels en ’n glas water met suurlemoensap. Die dokter het gesê jy
soek groot moeilikheid as jy nie van daai kruiwa vet om jou middellyf ontslae raak nie, en jy het gehoor wat hy sê.

Maar dit is moeilik. Vrek moeilik. Dalk net een tjoppie? Dit sal mos nie die einde van die wêreld wees nie, of hoe?

Darren Scott, sportaanbieder by Supersport en Jacaranda 94.2, weet presiés hoe jy voel. Darren het tussen April en November 2009 altesame 40 kg afgeskud, en toe almal wou weet hoe hy dit reggekry
het, het hy en sy mentor, die leefstylen- welstandkenner Lisa Raleigh, besluit om saam met die skrywer Dan Nicholl ’n boek te skryf: No Fries On Us – Cutting Darren Scott Down to Size.

Daar’s natuurlik ’n paar siniese mense wat wonder wanneer Darren weer gaan dik word … hy het immers ’n paar jaar gelede met behulp van verslankingspille 29 kg verloor en toe alles weer aangesit. Maar nie dié keer nie, sê Darren, wat nou al 18 maande sy doelgewig handhaaf. Hy het darem nét te lank en te
hard gesukkel om van die vetrolle ontslae te raak.

In graad 8, as die skoolsnoepie se beste klant, het hy reeds 90 kg (sy huidige gewig) geweeg, en in matriek was hy weer só maer (68 kg) dat sy desperate pa gesê het: “Ek gaan ’n hamburger in jou keel afdruk as jy nie nou begin eet nie!”

Tóé al het hy ’n hardkoppige streep gehad, maar Darren het gou weer begin eet en ná skool, vroeg in die jare tagtig, boonop whiskey ontdek. Dít, tesame met ’n gejaagde lewenstyl en kitskos, het veroorsaak dat hy in 1999 die skaal op 124 kg getrek het.

Dit was tóé dat hy die maermaakpille probeer en sy gewig tot 95 kg geval het, maar in 2009 het die skaal op 130 kg gaan staan. Darren was moedeloos, maar op 16 Maart 2009, om 17:10, kry hy ’n e-pos van Lisa Raleigh van The Biggest Loser SA-faam waarin sy hom uitdaag om sy lewensgehalte te verbeter.
Die fyn blonde veldkornet het hom ’n week lank by haar leefstylkliniek in Durban onder hande geneem met ’n streng dieet en oefenprogram, maar daarna kon Darren net af en toe vir Lisa sien en hy moes self sien kom klaar. Lisa was sy mentor, vertel Darren, en hy glo as jy regtig ernstig daaroor is om gewig te verloor het jy só iemand in jou lewe nodig. “Óf iemand wat graag wil hê jy moet slaag, óf iemand wat jou tart en vir jou sê jy gaan net nóg dikker word. Jy moet duidelik weet hóékom jy wil gewig verloor – nie omdat die dokter so sê nie, maar vir jouself,” sê hy.

“Die basiese beginsel is om te weet hoeveel kalorieë jy per dag nodig het, en hoeveel kalorieë jy eet,” sê Darren. ’n Mens is dikwels totaal onbewus van hoeveel kalorieë jy inneem. Volgens Lisa kan ’n driegangmaal met drie glase wyn maklik 2 200 kalorieë bevat, terwyl die gemiddelde man tussen 1 500 en 3 500 kalorieë per dag nodig het. “Jy kan nie gewig verloor as jy meer inkry as wat jy verbrand nie,” benadruk Darren. “En pille help nie. Ek het dit al probeer, en jy kan ieder geval nie die res van jou lewe pille drink nie. Wat jy nodig het, is ’n verandering in jou leefstyl.”

Niks te dramaties nie, maar jy sal wel ’n paar dinge moet doen. “Lisa het eerstens gekyk na wat ek eet
– meestal kaasburgers. Ek moes toe leer om my porsiegroottes te beheer, maar dis nie so moeilik nie, want byna alle kos het deesdae inligting op die verpakking,” sê Darren.

“Met die boek probeer ons leiding gee, maar ons is nie voorskriftelik nie, want elkeen se behoeftes verskil. Jy kan self kies hoeveel jy van wat wil eet, solank dit binne die raamwerk van jou daaglikse
energiebehoefte val. “Eintlik weet jy reeds wat jy nié in jou mond behoort te sit nie… kaas, room, witbrood, vet, souse, gemorskos, enigiets wat in diepvet gebraai is. Dit kan dal vir party ouens te erg wees, maar dis verbasend hoe lekker ’n mens kan eet aan die goed wat jy behóórt te eet, dinge soos groente, vrugte, vetlose vleis en kleiner porsies in die algemeen. Jou tong kort ’n bietjie heropleiding en jy moet van die bestanddele in jou koskas met gesonder alternatiewe vervang,” sê hy.

Sedert Darren sy teikengewig van 90 kg bereik het, lê hy weer elke week weg aan ’n sappige peper-steak, maar nou net 300 g, sonder enige souse en met ’n gebakte aartappel pleks van tjips. En dan is daar die oefening…

Lisa verduidelik die ou met sy slaaiblaar-en-wortel-dieet sal beslis gewig verloor, maar sonder om oefening te doen, sal dit hoofsaaklik water en spiermassa wees, en nie vet nie. Haar raad is om ’n bietjie minder as jou daaglikse kaloriebehoefte te eet en eerder meer aktief te raak. Só verbrand jy ekstra kalorieë, maar jy bou ook lenige spiere. En hoe vinniger jou metabolisme word, hoe meer kan jy eet.
Darren oefen nou sowat drie keer per week. Hy sien nie aldag daarna uit om drie-uur soggens op te staan en teen vieruur by die gimnasium te wees nie, “maar as ek dit gedoen het, voel ek regdeur die dag baie beter”.

Hy erken hy is nog net so dol oor McDonald’s, maar hy het darem ’n jaar laas iets daar gekoop. En dan is daar sy vrou, Sarah-Kate, wat hom gedurig probeer verlei met die blik bont jelly babies wat sy eintlik vir gaste aanhou. “Ek is steeds wie ek is,” sê Darren en steek nog ’n sigaret aan – dis die een gewoonte wat Lisa hom nie kon afleer nie. Hy steek ook nog gereeld sy hare aan die brand met Stroh-rum, sy partytjietoertjie, en hy drink steeds sy whiskey, maar geniet deesdae ook rooiwyn.

As Darren egter weet hy gaan tot vroegoggend kuier, oefen hy reeds die dag vóór die tyd ekstra hard om kalorieë te verbrand, en nie die dag daarna nie. Klein veranderings, sê hy. En anders dink oor kos. “Ons beplan nou ’n skoleprogram waar die ateljee-sjef Jody gaan wys hoe om gesonde maar lekker kos te maak, iets soos die projek wat Jamie Oliver in Brittanje aangepak het.” Bewusmaking oor eetgewoontes moet by kinders begin, en ouers kan ’n rol daarin speel deur meer kreatief kos te maak. “Roerbraai-geregte sal help om kinders groente te laat eet,” sê hy.

No Fries On Us is nie net vir manne wat die gesonde, fikse outjie agter die vetrolle wil ontmoet nie, maar ook vir mense wat net ’n paar kilogram wil afskud en, belangrik, afhou. Die boek bevat ook ’n versameling resepte vir smullekker maar gesonde kos, asook oefeninge wat jy by die gimnasium of die
huis kan doen. “Die boek is sedert November 2010 te koop en die terugvoer is fantasties,” sê Darren. “Die woord wat ek die meeste hoor, is ‘inspirerend’.”