sariesafarifin639
Kosstories

Te koop: ’n ponsbak

Kry maar jou stapskoene reg, want die kosprofete verklaar dis weer cool om agter jou kos aan te loop. Die safari-ete is terug. Ek praat nie van potjiekos iewers in die Serengeti of sebrastreepservette saam met die springbokboud nie, maar die uiteet-mode van die sewentigerjare.

Op so ’n sewentigs-safari sou Klara Klokbroek by die eerste stop haar gaste inwag met Hawaii-vrugtepons en garnaal-kelkie. En wat is ’n safari-ete sonder sy kenteken-gereg: canapés op stokkies? Met panache is dié tandestokkie-skeppings van ringetjies Weense worsies (van Spaanse chorizo weet Klara en kie nog nie), skelgeel blokkies soetmelk, en rooi en groen piekeluitjies volgens die kosmodereëls in ’n pomelo gedruk.

Klara wou Quiche Lorraine ook maak, maar weet heelparty van die dames is op die Scarsdale-dieet. Vir hulle is daar groentestokkies en dips vir Afrika. Op die draaitafel moedig Abba die safarigangers aan: “Take a chance on me.” Verder af in die straat neem die safari die gaste (nou beduidend vroliker ná die goed gedokterde vrugtepons) na die dubbelvlak-woning van Dokter en Mevrou vir die hoofgereg. Mev. Dok het haar nuutste kaftan aan, keurig gepas by die bruin, oranje en avokadogroen van die eetkamer. Almal is nuuskierig oor wat sy gaan voorsit; sy’s immers die trendsetter in die buurt wat met die safari-idee gekom het. “Sy’t mos ’n Hostess-trollie!” fluister Mev. Dominee, wat in die geheim haar geldjies spaar vir ’n Salton-warmskinkbord.

Die Noritake-eetstel is uitgepak en die geure van Beef Wellington (of is dit Steak Diane?) bevestig dat Mev. Dok weer uithang vanaand. “Money, money, money” blêr Abba op die nuwe hoëtroustel, terwyl die gasheer met fanfare ’n paar bottels KWV Roodeberg uit sy versameling opdiep. Die Van Hoogstratens, wat die nagereg-gang gaan voorsit, laat nie slaplê nie. Die safari-looproete is juis opdraand beplan
dat die gaste ’n eetlus kan opwerk vir die klimaks van die aand. Met Daisy van Hoogstraten wat so aktief
is in die plaaslike amateurtoneelgeselskap, verwag almal drama nes laas toe haar Crêpes Suzettes meer vlam gevat het as wat die resep voorgeskryf het.

Daisy stel nie teleur nie. Soos vooraf geoefen, word die ligte gedoof sodat net kerslig oorbly as voetligte
vir haar. Op haar platformskoene trippel sy op die maat van “Dancing Queen” die eetkamer binne met die Gebakte Alaska gloeiend van brandende vonkstokkies omhoog. Tussen die staande ovasie deur hoor Daisy se fyn geoefende oor hoe Mev. Dokter prewel. “Ag nee, Baked Alaska . . . dis tog so laasjaar!”
Destyds was die safari-ete boheems vir sy tyd. Dit was voor die dae van televisie-sjefs, Nigellas, Jamies en Come Dine With Me SA. Ons volkie was nog silwerdoek-verskrik. Ons het na Esmé en Jan se So Maak Mens op radio geluister, naweke inryteater toe gegaan en allegaartjie by die Drommedaris-inryrestaurant
of Doll’s House in Groenpunt gaan eet.

My pa was ’n streng man en skoolhoof. Geld is weggesit vir die kinders om te gaan verder leer, nie vir uiteet nie. Die rare okkasies dat daar wel na ’n eetplek toe gegaan is (die Harlequin in Parow of die Lobster Pot in Bellville), het Pa altyd agterna gesê: “Kom ons gaan drink jou ma se koffie by die huis.” Dit was net die uitverkorenes soos Dok en Mevrou wat by La Perla in Seepunt of die Heerengracht-hotel in Kaapstad gesien is. Ek moes my sakgeld gebruik om by die Spur sampioene op ’n stokkie te gaan eet.
Ma het haar nie veel gesteur aan die kosfoefies van die dag nie. Terwyl daar elders in die buurt fondue-partytjies en safari-etes gehou is, swartwoudkoek gemaak is (en by Weight Watchers aangesluit is), het my ma onverstoord gehou by skaapboud, blomkool met witsous en tamatieslaai.

`Haar poedings was óf nostalgiese meesterstukke uit haar kinderdae of basaar-nommers – ingelegde perskes met jellie en ingedampte melk saamgeklits tot ’n wolk van roospienk mousse. In my gemoed was Ma se vla soos dit hoort – met poeier uit ’n pakkie met die hand aangemaak, nie klaargekoop soos deesdae nie. Ma het wel haar hand gewaag aan Lasagne Verde en ander Italiaans-klinkende geregte, omdat my pa Italiaanse bloed het.

Die feit dat sy die resep op die pakkie van Fatti’s en Moni’s gevolg het, het haar aansien in ons oë laat styg. Moussaka, ’n ander gereg wat in my kinderjare mode geword het, het Ma ook net gemaak omdat haar groentetuin uit sy nate gebars het van tamaties en die pers klokke van eiervrug. Hoender à la King
het sy gemaak sodat ek kon ophou neul in haar ore, en omdat daar oorskiethoender was, en soetrissies in die tuin. Nou is safari-etes terug onder die vaandel van progressive dinners. Dit staan voor in die
modekoor, met trends soos pop-up-restaurante wat opskiet en supper clubs wat die kosglitterati nou kwylbek het. Die un-hip raak weer hip. Gister se koskitsch is vandag voorbladnooi van kostydskrifte.

Deur die dekades sukkel ek om by te hou met die eras: Net toe ek die kuns van Mediterreense kos en al fresco eet onder die knie het (en my eie songedroogde tamaties gemaak het), toe slaan die fusion-gier toe. Noudat ek my pad goed ken deur die dorp se beste eetplekke, verneem ek dis weer in om “in te eet”. Die oomblik toe ek ontslae raak van die fondue-pot wat ek destyds met my student-beursgeld gekoop het, verskyn fondue op die seisoen se trend-lys. Is daar iemand wat vir my ’n onfeilbare toekoms-loerglas het? Ek wil net graag kyk wat die toekoms van kosnuutjies inhou voordat ek daai lelike ponsbak weggee vir die kerkbasaar se tombola-tafel.