Tuna-nicoise-slaai
Kosstories

Terug werk toe: 5 kosblik-idees vir 2014

Ná ‘n vakansie van lekker eet smaak kosblikkos darem nie lekker nie. En dan is daar ook nie ‘n yskas naby waaruit jy kan peusel nie. Bestee in die nuwe jaar elke aand 5 minute aan jou kosblik en maak seker jy pak iets lekkers in.

Die reëls is eenvoudig:

  • Sluit proteïene by jou middagete in
  • Eet 3 ure voor én 3 ure ná middagete 20 g proteïene ( ‘n hand vol biltong of neute) en ‘n vrug.

Liezl se resepte

Keker-ertjie-en-avokado-slaai

Keker-ertjie en avokado-slaai

Die keker-ertjies (chickpeas) is propvol proteïen – perfek vir vegetariërs 

  • 1/2 blik (200 g) keker-ertjies, gedreineer
  • 5 cm komkommer, in blokkies gesny
  • 1 avokado, in blokkies gesny
  • 1 fetakaas-sirkel
  • varsgemaalde swartpeper
  • varsgekapte koljander, na smaak

Plaas keker-ertjies, komkommer en avokado in ‘n mengbak, breek fetakaas in growwe stukke bo-oor en maal swartpeper oor. Meng slaai deur en sprinkel varsgekapte koljander oor.

 

Caprese-wrap

Caprese-wrap

As jy gewoond is aan ‘n toebroodjie by die werk kan jy dit maklik so opkikker vir iets nuuts. Ek voeg ‘n snytjie ham by om my langer versadig te hou.

  • 1 volgraan-wrap
  • 15 ml basiliekruid-pesto
  • 1 tamatie, gesny
  • 3 snye mozzarella-kaas
  • 2 snye ham van jou keuse

Plaas wrap op ‘n bord en smeer pesto op. Pak tamatie, kaas en ham op, rol die wrap op en sny in 4 wiele vir maklik eetbare happies.

 Tuna-nicoise-slaai

Tuna-nicoise-slaai

  • 1 gekookte eier
  • 15 g blare van jou keuse
  • 1 blikkie (120 g) tuna
  • 5 – 10 babatamaties, gehalveer
  • 30 g ontpitte olywe
  • sout en peper

Kook water in ‘n potjie op die stoof. Plaas eiers in kookwater en kook tot so hard of sag jy dit wil hê. Dreineer water en dop eiers af. Hardgekookte eiers kan nou gesny word, maar saggekookte eiers kan jy eers by die werk sny net voor jy dit eet.

Plaas alle bestandele, behalwe eiers, in ‘n mengbak en meng deur. Plaas eiers bo-op en geur met sout en peper.

Kaneel-appels met jogurt

Kaneel-appels en jogurt

Om ná ‘n vakansie gesond te eet is soms moeilik. Dié resep laat jou vrugte na poeding smaak!

  • 1 appel, in blokkies gesny
  • 20 g botter
  • 5 ml kaneel
  • 1 houertjie (175 g) Bulgaarse jogurt

Verhit botter in ‘n pan. Voeg appels by gesmelte botter en verhit vir 1 tot 2 minute oor ‘n lae hitte tot appels effens sag raak. Strooi kaneel bo-oor, roer goed deur en skep uit in ‘n bakkie. Met etenstyd kan jy jogurt by die appels voeg.

Sjokolade-neut-splinters

Sjokolade-neut-splinters

Onthou dat donkersjokolade gesond is vir jou – voeg neute by en jy het ‘n peuselhappie wat jou honger stil én heerlik smaak!

  • 100 g donkersjokolade, gebreek
  • waspapier
  • 100 g pakkie vrugte-en-neutmengsel

Smelt donkersjokolade. Smeer 2 mm dik uit op waspapier. Strooi neute-mengsel bo-oor en laat toe om oornag hard te word. Breek môre-oggend in skerwe wanneer jy jou kosblik inpak werk toe.

Ek hoop jou eerste week by die werk vlieg verby en dat jy steeds lekker kan eet ná die vakansie!

Klits-en-Klets Kok

Liezl

Klits-en-Klets Kok Volg my ook nou hier en kook saam:

Twitter: @KlitsenKletsKok

Facebook: Klits en Klets Kok

Instagram: klitsenkletskok

Indien jy een van die SARIE kos-blogs gemis, het klik hier.