FOTO Unsplash / Ali Inay

FOTO Unsplash / Ali Inay

Kosstories

10 internasionale ontbyte wat jou mond laat water

Hulle sê ontbyt is die belangrikste ete. En as ons kyk hoe sommige lande aan hul eerste maaltyd van die dag weglê, kan ons sien waarom!  

Amerika

In die VSA moet jy tipies-Amerikaanse pannekoeke (dis byna soos ons plaatkoekies) met bloubessies en stroop eet. Natuurlik word dit dikwels saam met repies spek voorgesit.

Australië

Enige Australiër sal vir jou sê as hulle ’n nasionale ontbyt moes hê, sou dit iets met Vegemite wees. ’n Snytjie roosterbrood met dié smeer, wat byna soos Marmite is (maar moet dít tog net nie vir Australiërs sê nie!), word Doer Onder as ’n lekkerny gereken.

Brittanje

Die Engelse ontbyt is bykans op elke restaurantspyskaart in die wêreld en menige mens bederf hulself graag met dié ete wat gewoonlik roosterbrood, eiers, spek, worsies, gebraaide sampioene en gebakte boontjies insluit.

China

Een van die gewildste tradisionele ontbyte in China is die kombinasie van diepgebraaide deegstokkies, wat die Chinese you tiao noem, en warm sojamelk.

Colombia

Jy kan nie in dié Suid-Amerikaanse land ontbyt sonder arepa eet nie. Dit is ’n soort mieliekoekie wat effens soeterig is en byna dieselfde tekstuur en vorm as ’n pitabrood het. Gewoonlik word dit met botter, konfyt, eiers of vleis bo-op geniet.

Frankryk

Die ikoniese croissant kraai natuurlik koning!

Indië

Die Indiese uttapam is ’n dikkerige tipe pannekoek waarvan die beslag onder meer van rys en dhal gemaak word. Gewoonlik word stukkies groente in die beslag gemeng en word dit saam met blatjang voorgesit.

Libanon

As jy ontbyt in dié Midde-Oosterse land wil eet, sal manakish waarskynlik op die spyskaart wees. Dit is ’n tipe platbrood wat met za’atar (’n gewilde kruie-mengsel in die Midde-Ooste) gegeur word, en jy kan dit ook met kaas bestrooi. Dit word dikwels saam met tamaties voorgesit.

Nederland

’n Lekkerny vir ontbyt in Nederland is appelpannekoek wat soos ’n tert proe. Dit word gewoonlik met stroop voorgesit.

Spanje

’n Gewilde Spaanse ontbyt is pan on tomate wat basies geroosterde brood met ’n smeer van gerasperde tamaties is.

En hier op eie bodem

Wat is dan nou meer Suid-Afrikaans as pap, wors en sous vir ontbyt? Hierdie klassieke gereg is so eie aan ons kultuur soos biltong en bobotie. Ek geniet ook daarby ’n gebakte of geposjeerde eier.

En wat van gisteraand se braaipap met suiker en melk vir ontbyt …

Hier is my resep vir volstruiswors, pap en smoor 

sk1006volstruis6
Lekker kook en begin jou dag altyd met ’n goeie ontbyt!
Herman

Lees nou

Het jy ’n lekker ontbytidee? Deel dit met Kellogg’s en jy kan WEN!

Maak jou eie roomlikeur!

Jou skottelgoedwasser – wat jy móét weet