Kosstories

Twee kosmanne reis tesame

DIT HET BY DIE KLEIN, krom tantetjies in Griekeland begin. “En moenie die huisvroue op die Franse platteland vergeet nie!” gooi Lennie ’n stuiwer in die armbeurs. “Maar Johan sal vandag die meeste van die praatwerk doen.”

“Daardie tantetjies wat jy van die mark af huis toe sien slof met een blinkswart eiervrug, twee tamaties en ’n knoffelhuisie onder die blad . . . jy weet sommer by voorbaat hulle gaan nou
die verruklikste middagete daarmee maak,” sê Johan.

Len rol sy oë, oorbluf oor sy eertydse ingesteldheid: “Ek het nie sulke daaglikse inkopies geken of verstaan nie . . . ek het in ’n ‘supermarkfamilie’ grootgeword. Ons het meestal geëet om te lewe, pleks van andersom.”

By hul huis in Kenilworth in die Kaap eet en onthaal die twee fynproewers al jare lank soos die Grieke of Franse, en hulle volg dieselfde benadering by la Petite Tarte, die knus Franse-styl koffie-en-teekafee in De Waterkant, Kaapstad. Dié het hulle in Augustus 2009 gekoop, ná sewe jaar as voorvatters by die
vyfster-boetiekhotel La Residence op Franschhoek.

Sedert Johan en Len 36 jaar gelede deur ’n gemeenskaplike vriendin aan mekaar voorgestel is, bly hul leuse eenvoudige eerlike maar ook elegante kos – dikwels Mediterreens – waarvoor net die heel beste vars, seisoenale bestanddele goed genoeg is. ’n Vrieskas, glo die twee koskamerade, is iets wat jy
net gebruik as dit regtig nie anders kan nie.

Once Upon a Chicken Pie and Other Food Tales (Random House Struik, R240), hul eiesoortige reis-en-kookjoernaal wat einde verlede jaar verskyn het, is ’n verdere verpersoonliking van hierdie benadering. In die boek kombineer Johan kosherinneringe uit sy kinderjare op sy oupa se plaas langs die Hoofweg
in Retreat met die eksotiese smake en geure waarmee hy kennis gemaak het toe hy eers alleen deur Europa gereis het, en later saam met Len. Johan is die onbeskaamde omnivoor en ook amptelik die kok in die huis.

Len, ’n boorling van Zambië, wat grootgeword het in gehuggies in Kenia, Uganda, Tanzanië en oplaas die destydse Suidwes-Afrika, beskryf homself as “’n tipe vegetariër” wat nie sy mond sit aan “rooivleis, pluimvee of karnivoriese vis wat té veel soos vis smaak” nie. Once Upon a Chicken Pie, verklaar hy kastig spytig, is alles sy “skuld”. Hy is gewoonlik die een wat die foto’s neem op hul oorsese reise en het hom nog altyd verwonder aan Johan se gewoonte om oral flentertjies papier en etikette te versamel.
In skooloefeningboekies skryf Johan ook amusante en interessante stories neer oor wat hulle op ’n spesifieke dag gesien en geëet het, of watter mense hulle ontmoet het.

Amper drie jaar gelede het Len Johan se storie oor ’n middernagtelike Griekse hoenderpastei-fees saam met ’n ou foto na ’n uitgewer gestuur, en ná ’n paar ompaaie en vertragings het die antwoord gekom: Dankie, ons soek nog 25, asseblief! Johan sê sy groot kosavontuur het waarskynlik begin by sy oupa – “’n baie fyn eter” – se groentetuin, en die heerlike geregte wat die huiskok, Johanna, met al die wonderlike vars produkte opgetower het.

“My ma, May, was ook ’n puik kok, en so ook my ouer sus, Voy Stopforth, wat jare lank ’n huishoudkunde-onderwyser was,” vertel hy. Saam met die reisfoto’s en -memento’s in die boek word enkele van dié oorspronklike gesinstreffers net so in sy ma se handskrif ingesluit. Onderaan die resep vir haar beroemde wortelkoek skryf sy byvoorbeeld: “Johnny, baie, baie dankie vir jou & Len vir die afdrukke, kamer lyk al klaar baiebeter. So bly jy het die lelike ou lampkap hier weg, hier is so baie dinge in die huis wat hinderlik is . . .”

Johan en Len se oneindige vermoë tot selfspot – kom ’n mens agter op hierdie woelige Donderdagoggend so tussen al die wuiwe en blitsige telefoonoproepe en kletspraatjies deur – is wat die twee plat op die aarde hou, al sou hulle kon spog oor watter groot kokkedore – byvoorbeeld Elton John
en sy gevolg – al by een van hul tafels aangesit het.

“Johan is so ’n natuurlike kok,” sê Len kamma jaloers, “een van daardie wat alles verskriklik maklik laat lyk.” Maar hy skerm gou: “Ek kán self ook kook, al is ek ’n bietjie lui.”

Hy wys na die groot klokglas waar ’n majestueuse wortelkoek – een van la Petite Tarte se beroemde attraksies – staan. “Skryf daar: Len se werk is om die wortelkoek te bak.”

“Pla my nie in die minste nie!” laat Johan van hom hoor, “want Lennie en Prudence Njonga, wat hier werk van voordat ons nog die plek gekoop het, is die heel beste proefkonyne waarvoor ’n mens kan vra, met ’n proe-sin wat baie fyner as myne ontwikkel is. Lennie is ook uiters gulhartig met sy kritiek! As daar iewers fout is, spring dit dadelik uit na hom toe.

“Terwyl ek kook, hou Lennie hom op met al die partikuliere goed wat my heeltemal op my senuwees maak: Hoe gaan die mense by die tafel inpas? Watter tafeldoek, blomme, wyn, breekgoed en eetgerei moet gebruik word? Hy doen ook al ons rekeninge, fakture en belasting en hou op die internet kontak met vriende. Maar ons is al twee mal daaroor om die winkel mooi te maak en met ons klante te gesels,” sê Johan.

Teen die tyd dat die eerste honger mense vir middagete begin opdaag, besef jy julle het nog nie veel geklets oor die jare voor La Residence nie. As daar tyd was, sou jy gehoor het van Johan se studiejare aan die opleidingskollege in die Paarl en sy kunsgraad aan die Universiteit Stellenbosch, en hoe hy daarna as “ontwerper” by ’n argitekspraktyk moes uitwerk hoeveel goue plastiek-nulle, ene en ander syfers bestel moes word vir die kamers van die destydse Heerengracht-hotel.

Maar dié sieldodende werk het uiteindelik vir sy eerste Europese reis betaal. Toe hy terugkom, het die Ruth Prowsekunssentrum, die Hoërskool Jan van Riebeeck (SARIE se Barbara Joubert is ’n oudleerder van hom) en die Frank Joubert-kunssentrum, almal in Kaapstad, gevolg. Lennie het op sy beurt in die jare sewentig by Harrods in Londen gewerk, en was later onder meer die publisiteitsbestuurder
van die Cavendish Square-winkelsentrum.

Nie lank daarna nie het hy in verftegnieke begin spesialiseer en Johan oortuig om hom by hom aan te sluit. Drie boeke het gevolg, asook verskeie skilder- en binneversieringsprojekte oorsee. Ons is al aan ’t hand skud toe Johan sê: “Magtie, ons moet nog behoorlik praat oor die twee Europese somers toe ons
Villa Athena in Skiathos, Griekeland, bestuur het. Dis ’n ongelooflike storie, maar seker vir ’n ander dag, of hoe?”