FOTO: Luke Dale-Roberts van The Test Kitchen

FOTO: Luke Dale-Roberts van The Test Kitchen

Kosstories

Twee van die wêreld se 100 beste restaurante in SA

Die Suid-Afrikaanse restaurant The Test Kitchen het by ’n glansgeleentheid in Londen se geskiedkundige Guildhall die 28ste posisie op die lys van die wêreld se 50 beste restaurante losgeslaan. Nes verlede jaar is dié top-restaurant van Luke Dale-Roberts ook as die beste restaurant in Afrika aangewys.

The Test Kitchen was verlede jaar in die 48ste posisie op dié gesogte lys.

“Ek is verheug! Ons het die afgelope jaar hard gewerk by The Test Kitchen. Ons het met nuwe tegnieke geëksperimenteer en probeer om alles perfek voor te sit, sonder om ons speelse andersheid prys te gee,” sê Dale-Roberts oor die prestasie.

The Test Kitchen is by The Old Biscuit Mill in Woodstock, Kaapstad. Die spyskaart bied ’n verskeidenheid kreatiewe geregte en eksperimentele nageregte wat jou mond sal laat water.

Ook onder die wêreld se beste restaurante is The Tasting Room by Le Quartier Français in Franschhoek, wat die 85ste posisie op die lys beklee. The Tasting Room beloof om meer as net cuisine voor te sit. Elke bord, met sy Afrika-geïnspireerde elemente, het die vermoë om die hart en siel van restaurantgangers te steel.

Die top-5 restaurante in die wêreld is:

1. El Celler de Can Roca, Girona, Spanje

2. Osteria Francescana, Modena, Italië

3. Noma, Kopenhagen, Denemarke

4. Central, Lima, Peru

5. Eleven Madison, New York, VSA

BRON: The World’s 50 Best Restaurants