sk0409herfsslaai01x
Kosstories

Uit jou tuin-spens

Die pers blomballetjies van uiegras loer uit die romerige aartappelslaai. Kort voor aansittyd het hulle nog op hul groen stele in die tuin gedans voor die sjef en sy tuinskêr.  ’n Eie kombuistuin is deesdae die nuutste gier – nie net ter wille van die mode nie, maar ook vir gesondheid van liggaam en saligheid van bank-balans.

Vars, smaaklik en voedsaam is wat die moderne mens wil hê. En vrugte, groente, kruie en blomme kom tafel toe in ’n verskeidenheid soorte en groottes. Dit groei ewe gemaklik in houers as in die oop grond en kan regdeur die jaar geoes word, van Gauteng tot in die Wes-Kaap. Gekombineer met die geur en kleur van kruie en eetbare blomme staan die spensdeur altyd oop.

Iemand wat jare lank al uit haar tuinspens pluk, is Jenny Ferreira van Wellington, wyd bekend vir haar kampioentuin en haar passie vir geregte uit daardie tuin, seisoen ná seisoen. Sy glo ’n suurlemoen-, lourier- en vyeboom is die sambreel van die kombuistuin. Hulle gee hoogte en koelte en dra bowenal takke vol lekkertes.

Veral die vy is deesdae alte opwindend in slaai, op filet of gebak as nagereg. Dié boompies gedy ook in potte. Die vy hou van vasgedrukte wortels. Sorg dat hulle net met ’n enkel-stam grootword en klim maar in met die snoeiskêr. Geeneen van hulle het al iets oorgekom van ’n bietjie dissipline nie. 

Die tuinspens kan op ’n lappie aarde so groot soos jou voordeur groei, selfs op die patio, in ’n ou kruiwa, op die balkon of op die vensterbank. Waar daar plek is om ’n pot of bak neer te sit of op te hang, daar kan ’n spens vol goedheid groei. Houers wat lig genoeg is, kan saam gaan vakansie hou, en houers op wieletjies is net die ding om agter die son aan te stoot op ’n woonstelbalkon.

Jy kies vir jou spens wat in jou huismense se smaak val. En, herinner Jenny, jy kies plante soos pietersielie en tiemie waarvan jy kan knip en knip en die grond lyk nooit kaal nie, want jy gebruik nie die hele plant nie. In haar tuin laat sy basiliekruid saam met tamaties baljaar vir ’n lekker slaai, en in die somer gebruik sy die basiliekruidblare in roerbraai- geregte. Pers en groen slaaikoppe met gekartelde kuiwe kleur ook haar tuin. Hulle sukkel in die hoogsomer, maar met ’n bietjie skaduwee kan jy van ses plante regdeur die jaar jou eie slaai pluk, so vyf blare op ’n keer. Só sal die slaai tot drie maande lank nuwe blare maak. Dis hier waar jy moet slim wees. Plant gereeld nuwe saailinge sodat almal nie tegelykertyd verby hul groeityd is nie. Wortels, beet en uie kan ook twaalf maande van die jaar geoes word indien dit so stuk-stuk gesaai word.

Jy kan ook heeljaar proteïene pluk met agt stamboontjies, en ’n nuwe plantjie so elke tweede week. Rankboontjies krul uitspattig oor ’n stellasie van riete. Net vier boonplante gee genoeg skaduwee vir jou slaai en lyk spoggerig met ’n rytjie pietersielie of uiegras aan hul voete.

’n Grenadella wat oor ’n heining rank, gee nie net diepgroen-koelte nie, maar ook ’n vrug van passie en ’n mooi blom. En wat is ’n tuin nou sonder sy rissie? Plant verskillende soorte – soet, matig en brandwarm – in erdepotte met gate vir dreinering.

Spinasie, ook dié met die rooi, geel en oranje stele, sal maande lank blink soos verfkwashale. Pluk net gereeld die buiteblare vir die tafel. Dan deel die spinasie nog sy sewe vitamienes en dertien minerale met jou huismense, en jy kan boonop jou silwerware met ’n aftreksel van die blare skoonmaak!

Trossies kersietamaties kan net so op slaai neergelê word. ’n Nuutjie is ’n tamatieplant wat onderstebo groei nadat die saadjie in ’n opening onderin ’n houer gedruk is. Die klein lemon drop-gousblom (marigold) lyk nie net mooi in ’n slaai nie, maar sy sterk reuk hou die grond vry van die lastige rondewurm (nematode) wat byna onsigbaar in die grond skuil. Molle kan ook sommer met kombuis-bestanddele verjaag word: ’n mengsel van ou kookolie en fyn knoffel drup jy in hul woonplekke.

Maar seker die grootste tuiniers-hulp is die kappertjie. Slakke sal by ander plante verbykruip om onder kappertjies te gaan slaap: Baie nuttig, want dis dáár waar jy die vriend van die Franse kombuis aankeer. Die kappertjie-blom word nie net vir mooimaak gebruik nie, maar ook in slaaie en op toebroodjies. Met die effens peperige smaak is dit ideaal vir wildsvleis-marinades, in kruiebotter, omelette en doopsouse.

Behalwe jou hart en jou hand, is son, water en bio-kompos al wat ’n kombuistuin nodig het. Hou ’n drommetjie in die kombuis waarin skille, eierdoppe, teesakkies en papier van die servetrol ’n rusplek vind. Een keer per week word die drommetjie in die tuin leeggemaak om af te breek tot kompos. Jenny glo in ’n natuurlike tuin en verpes gifstowwe. Daar is talle pasmaats wat meer gevoelige plante ondersteun en die peste en plae weghou sonder om voëls, trapsuutjies en ander tuinvriende te verjaag. Knoffel, wat sommer sal groei uit ’n huisie wat in die grond gedruk word, is só ’n beskermengel.

In die Paarl wag nog ’n koskunstenaar, Yogi Frater, op die kombuistuin-ghoeroe Ben Getz van Kaapstad om ’n tuin te beplan en later te onderhou. Yogi se liefde vir tuinmaak word net oorskadu deur wat sy in die kombuis kan optower met die skatte uit ’n tuinspens. Die laventelbos se blomme versier nie net haar geregte nie, maar beland in haar brosbeskuit en houers vol ys. Sy verhit melk of room ’n uur lank met laventel daarin op die stoof, dreineer dit en gebruik die gegeurde melk vir die bereiding van vla of roomys. Met drie eetlepels gedroogde laventelblomme in ’n houer versiersuiker, so nou en dan goed deurgeskud, dollie sy binne ’n week die suiker op en word dit oor ’n koek gesif. Laventel groei ook só gewillig. Snoei die bos net ná elke somerdrag, sodat dit nie sy vietse vorm verloor nie.

Die geel blomme van die murg-pampoentjie-plant word gevul met maaskaas en wituiesop-poeier, gedoop in pannekoekdeeg en diepgebraai. Die ganse pampoen-familie (soos die murgpampoentjie) gee nie om of hulle  in ’n balie op die voorstoep, opgelei aan traliewerk of op die komposhoop groei nie.

Die geur en soet smaak van viooltjies verryk Yogi se sjokolade, konfyt en asyn, sy versier koeke daarmee en die blommetjies word versuiker of in ysblokkies verewig. Herfs is die beste tyd om viooltjies te plant. Die grasui se blommetjies word nie net in slaaie gebruik nie, maar op sop neergelê omdat hulle maklik dryf, of selfs diepgebraai. Vir grasui-blom-tempura word 2 eiergele, 475 ml ys-water en 225 g meel gemeng. Die blomme word liggies daarin gedoop en dadelik diepgebraai. Sit voor met ’n doopsous van 300 ml dasji (Japannese aftreksel),
60 ml sojasous en 60 ml mirin (soet ryswyn), tot kookpunt gebring.

Rose, angeliere, wit vlierblomme . . .almal kry ’n plek in drankies, gedoop in sjokolade en in gebak, konfyt en sorbet. Om blomblare te maak vir versiering klop jy eierwit styf, doop die blomblare daarin en strooi strooisuiker oor. Pak dan die blomme op ’n draadrakkie op ’n warm, droë plek om hard te word. Vir nagereg laat jy bessies teen ’n draad rank – sommer tussen twee pale – ’n papaja teen ’n warm muur uittroon, appelliefies stoel en aarbeie uit die openinge in ’n mooi erdekruik kruip.

Die gousblom is bekend as “poor man’s saffron” en is nie net onontbeerlik vir gesonde tuingrond nie, maar word deur die natuurkok ingespan as kleursel vir rys, in slaaie, soppe, souse, groente-marinades en pilaf.

En wie het nou kon dink dat die knop van ’n daglelie ’n vinnige roerbraai of sop na aspersies sal laat smaak? Oop daglelies word gevul en diepgebraai. Onthou net om die stamper en stingel te verwyder, want dis bitter! Lemoenbloeisels maak fris lemoen-bloeiselwater en gee ’n delikate geur aan vrugte- of droëvrugte-poedings à la Marokko. Krisante word veral in Chinese kombuise gebruik, die helder blomblaartjies as versiering in roerbraai, sop of slaai. Die blom het ’n skerp smaak – gebruik dit dus spaarsaam.

Hoe kleiner jou tuinspens, hoe versigtiger moet daar gekyk word na wat pas by jou kookstyl. Maar gooi jou inhibisies op die komposhoop en druk ietsie gewaagds in die grond, soos opkikkers vir ’n kruieslaai of disselsop. Met die winter om die draai word dit tyd vir kerriekos en sop. Plant sommer vandag nog ’n gemmerknoets en saai ’n pot sop – ertjies, broccoli, wortels en preie kan in die herfs oral in die land gesaai word, en sal binne ses weke plukgereed wees. Trek uit jou skoene, skoffel saam met die sierkool in haar valletjiesrok, proe moederaarde, oefen die maagspiere en voed jou siel. ’n Bakkie uiegrasplantjies is dalk net wat ’n spesiale vriendin nodig het om ’n tuinspens te begin. Of wat van ’n artisjokplant in haar silwerblou kleed met kartelrande – boonop die draer van smullekker blomknoppe.

* Net soos daar wintermense is en ander wat in die somerson floreer, so verskil die behoeftes en seisoenvoorliefdes van plante. Steek kers op by kwekerye en saadmaatskappye. Kyk ook by http://www.roomtogrow.co.za, bekend vir die uitleg van organiese kombuistuine in Gauteng. In die Wes-Kaap kan Ben gekontak word by ben@urbanharvest.co.za. Of stuur e-pos na yesplease@pegs.co.za (Permanent Edible Garden Service) en besoek www.eatyourgarden.co.za. *Vir inligting oor tuin-kursusse, besoek www.soilforlife.co.za, www.berg-en-dal.co.za en www.kitchengarden.co.za.