Kosstories

Uit my dorpsplaas-tuin

Met die mooiste lente amper hier styg die kwik uiteindelik op Montagu en die son skyn heerlik in die Klein-Karoo. Die tuinmanne val vroeg in om op die geil dorpsplasie te skoffel en te plant, want die somer lê om die draai en die plantjies en sade moet in voor ons by Januarie se 40°C uitdop. Dorpsplase is al meer as 150 jaar ’n Montagu-tradisie. Trouens, die boere in die geweste bekend as die Koo-vallei het hul dorpshuise gehad vir wanneer hulle Nagmaal gebruik en ander sake gedoen het.

Dié huise is meestal in die boustyl van toentertyd opgerig, wit afgekalk en die hortjies groen geverf – vandaar die dorp se asemrowende argitektuur. Boervroue kon egter nie sonder ’n behoorlike groente- en vrugtetuin of ’n wingerd klaarkom nie. Dus was dié dorpsplase ’n paar erwe groot, beplant met ’n groot verskeidenheid groente, appelkoos-, peer- en pruimbome, ’n laning of twee kwepers, bessiebosse en natuurlik ’n fyntuin met blomme, veral die rose wat hier so mooi aard. Agter by die kombuis was die kruie vir die pot en in ’n kraal ’n koei en ’n skaap of twee.

Tot vandag het die meeste dorpsbewoners ’n lappie aarde langs die huis waar groente gekweek word. Ons werf het ’n leivoor, ’n boorgat met rooi roeswater wat al my roosbome laat kwyn, en goeie grond waar kundige Karoohande die grond bewerk en my leer om kopkool, boontjies, uie en beet reg te plant. Niemand glo my as ek vertel ons plant volgens die maan nie. Maar al die boere hier rond doen dit. Wanneer die maan kwyn, plant jy die ondergrondse groente, soos aartappels, beet en wortels. Ná sekelmaan, as hy weer begin gedy, plant jy bogronds die boerbone, spinasie en kopkool. Dis nie Middeleeuse heksegelowe nie, dis gesonde verstand. Boere doen dit al eeue lank, want hulle verstaan die kringloop van die maan.

Harry, Gert en Boy is ons tuiniers. Hulle hou die ou tradisies aan die gang onder die wakende oog van Solinus Jolliffe, en uit hul hande groei die beste groente in die geweste. Op die werf eet almal smiddags dieselfde kos: ’n groot bak groentesop met brood. Wanneer dit warm word, sit gaste saans buite en eet tamaties op rys, botterskorsie met parmesaankaas in die oond gebak, stewige wîe spinasietert, asook my eie, trotse uitvindsel: ’n helderrooi smeer, effens suur, verslawend lekker op brood of beskuitjies.

Dié smeer maak jy van songedroogde tamaties gemeng met ’n koppie amasi, die melkdrankie gelief onder swart werkers en hul kinders. Snipper vars rissies by, asook ’n paar blare van die Oudam (Montagu-Wes) se beroemde kerrieblaarboom. Dié boom is as steggie uit KwaZulu-Natal saamgebring, teen ’n muur geplant waar hy sou son kry, maar nie die wrede ryp van die Klein-Karoo wat reguit van Bloupunt oorkom en al jou saailinge vernietig nie.Tot ons almal se verbasing het die plant wortelgeskiet, blare gemaak en groei nou dat dit klap. Die tropiese boom staan oor die 2 m hoog en is een van die geheime van Montagu, sodat ons ’n jaar lange bron het vir die pluk van dié kosbare blare vir ons kerriekos.

Tussen al die groente skiet die kruie op; onkruid ook. Die tuinmanne verduidelik: “Dis nie onkruid nie, ons eet hom saam met die pap!” Hulle is gek na die spinasie wat so wild opkom, met ’n paar blare damasblom, oftewel roket, wat ook heeljaar langs die leivoor groei. Toe kry ons ’n slim idee: Plant die groente ten bate van die armste mense wat kilometers ver na Montagu moet stap om groente te koop. Leer hulle ook om hul eie groente te kweek. Ek vertel Solinus van die Joseph Mazibuko-projek in KwaZulu-Natal, waar hulle ontdek het jy kan op ’n stukkie grond so groot soos ’n huis se voordeur genoeg groente kweek om ’n gesin van vyf heeljaar te voed.

Só het die Huistuintjie-projek op Montagu begin, en 160 trotse huishoudings kweek hul eie groente met behulp van die Rotariërs en ons gawe munisipaliteit wat water verskaf. Die Klein-Karoo is droë land en ons kry nie winterreën nie. Besproeiing is duur. Die projek werk soos ’n droom en ons kan nie voorbly met opeet nie. Skielik is die paadjies oorlaai met baba-tamaties, hier kom nog 60 beetplante op, die boerboonplante staan skouerhoog, ertjies, groenbone, spinasie, kool . . . dis te veel! Wat oorbly van die geil oes word Saterdae in die gemeenskappe verkoop op tafels gemaak van bokkies en planke.

En hier lê my inspirasie. Ons familie en vriende is meestal groentemense. Tot jy smôrens in jou eie tuin kan rondloop terwyl die dou nog lê en die tuinmanne konkavuur maak, en ’n kooksel beet blare en al uit die grond trek, het jy nog nie gelewe nie. En ons klein-klein kinders in die sorgsentrum kry ook elk ’n bak gesonde sop met ’n broodjie by, nes ons, om hulle voor te berei vir grootword, want dis harde werk. Kombuis toe met die emaljebak vol groente, ’n hand vol vroeë uiespruite suutjies in die voorskootsak gedruk (as Harry jou vang, is daar perde!) en rustig sop kook van die wortels, bone, blare en patat vir almal op die werf. Dalk ’n stuk oorskiethoender by, of ’n hand vol droë-ertjies . . . so lekker soos 10 perde nie kan hardloop nie.

Die eiervrug en soetrissies gaan vir gaste vuur toe om die skille te skroei. Hulle moet pikswart wees, dan vryf jy al die swart onder die kouewaterkraan af. Skraap die eiervrug se vleis uit, meng met tahini, daardie verleidelike sesamroom, of sommer jogurt; sny die rissies in repe en pak op ’n mooi bord met ’n ligte vinaigrette en ’n spul roketblare. Vir my Joodse vriende maak ek dikwels tsimmis vir hul Sabbat. Braai snye patat, en bak wortels soos pennies opgesny. Daarby voeg jy saggekookte pruime, geskraapte suurlemoenskil, ’n knypie growwe sout en vier eetlepels heuning. Bak die hele lot weer oor die vuur in ’n tinfoeliebakkie, toegemaak met nog foelie, en verduidelik aan jou vriende: Die wortels is die pennies van rykdom, en die heuning is die soet van die lewe.

Wat van die knoffel? skreeu die manne. Ons is mal oor knoffel oor die kole gebraai, maar knoffel in die tuin gekweek neem te lank – nege maande, nes ’n baba. Dus koop ek my vars knoffelbolle by die liewe André van Kom Weer Kafee, asook sy perfekte aartappels, en maak ons heerlike knoffelaartappels met olyfolie en kaas. Ek gebruik die groot ysterpan wat net so vuur toe kan gaan. Die resep is eenvoudig: Kook aartappels in die kombuis tot gaar, skil en sny in dik stukke. Pak in die pan met baie vars knoffel fyngekap (nie gekoopte knoffel in ’n bakkie nie!), ses eetlepels olyfolie en ’n paar takkies tiemieblare. Dis ongelooflik hoeveel mense, en veral kinders, van dié salige gereg kan eet. Bak ook sommer heel knoffelbolle, toppe afgesny, vir sowat 45 minute in tinfoelie op die vuur. Pas net op vir die klein vingers wat die knoffelhuisies bykom en ontdek die sagte room kan uitgesuig of op brood geëet word.

Daardie aand sit jy die kroos met hul knoffelasems in die bed, gaan plaks langbeen voor die braaivuur, skink ’n groot glas wyn en peusel aan die geure van jou eie groente uit jou eie tuin.