Kosstories

Uitblinker olyfolies aangekondig

Die uitslae van die 2009 SA Olyf Toekennings is Woensdag 16 September deur SA Olive, die beheerliggaam van dié bedryf, en Consol, die borg van die kompetisie, bekendgemaak.

Annalene du Toit van Kloovenburg Landgoed is aangewys as die 2009 ABSA Olyf Presteerder van die Jaar vir haar besonderse passie vir en bydrae tot die groei van die bedryf.  Annalene, ‘n gedrewe entrepreneur en gekwalifiseerde olyfolie proepaneelleier, is onlangs aangewys as die Sanlam/Landbouweekblad Vroue Entrepreneur in Landbou vir 2008/09.  

Sedert 2000 het sy haar besigheid sodanig uitgebrei dat sy vandag met meer as 40 olyfproduklyne spog, ‘n hele aantal toekennings hiervoor ontvang het en selfs ‘n kosmetiese produkreeks ontwikkel het met olyfolie as basis.  Hierdie produkte word na Nederland, Duitsland en Mauritius uitgevoer.  Sy het ook ‘n belangrike bydrae gelewer in die vestiging van die Riebeek Vallei as gewilde olyfbestemming. 

Sake is in Kommersiële en Boetiekklasse uitgespook. Uit die totale aantal inskrywings, wat met 53% sedert 2008 toegeneem het, is altesaam 10 goud, 9 silwer en 10 brons medaljes vanjaar toegeken.

In die Kommersiële klas is die die vier top-presteerders met een goud toekenning elk op hul kerfstok:

Kloovenburg Cold Extracted Extra Virgin Olive Oil (Kloovenburg Olives),

Morgenster Cold Extracted Extra Virgin Olive Oil (Morgenster),

Olyfberg Extra Virgin Olive Oil Cold Pressed (Olyfberg) en

Rio Largo Extra Virgin Olive Oil Cold Extracted (Rio Largo Farming).

Die Boetiek klas spog met ‘n halfdosyn goud toekennings.

Die presteerders in dié klas is:

Green & Gold Extra Virgin Olive Oil (Diepsak Farm);

The Lady Olive – Olive Oil (The Lady Olive);

Saint Sebastian Bay Extra Virgin Olive Oil (The Greenleaf Olive Co);

Muiskraal Extra Virgin Olive Oil Cold Pressed (Muiskraal);

Olyven Houdt Extra Virgin Olive Oil (Olyven Houdt Farm) en

Waterfall River Organic Extra Virgin Olive Oil Cold Extracted (Waterfall River)

Inskrywings is blind deur die amptelike SA Olive proepaneel volgens vooraf-neergeledge kriteria ten opsigte van styl – delikaat, medium en intens – beoordeel. Die paneel, gelei deur bedryfskenner Gerrie Duvenage, het bestaan uit vier produsente en drie nie-produsente. Goud, silwer en brons medaljes word op ‘n konsensus basis toegeken aan olies wat ‘n voorafbepaalde puntetelling behaal. “Dit is ‘n model wat ons aan die wynbedryf ontleen het, waar dit met groot welslae toegepas word,” sê SA Olive voorsitter, Andries Rabie.

Volgens Rabie sal vanjaar se beoordeling standaarde in die bedryf herskryf, aangesien slegs kenners uit die bedryf met ‘n erkende proe-kwalifikasie wat boonop aktief op proepanele dien, kwalifiseer om inskrywings vir dié gesaghebbende kompetisie te beoordeel.

Besoek ook www.saolive.co.za