Kosstories

Vinkel

Wat is dit?

Jy is óf mal daaroor, óf glad nie! Vinkel is ’n bol met ’n drop-smaak. Jy kan die bol-edeelte (veral lekker saam met vis) en die fyn blaartjies gebruik. Daar is klein vinkelbolle beskikbaar wat ideaal is om net so te rooster, en ook groteres, wat ek in die heerlike vegetariese resep hierby gebruik. Hierdie gereg is ook geskik vir ‘n bykos, veral by varkvleis.

Gebakte vinkel en sampioene

(4 porsies as hoofgereg /6 porsies as bygereg)

  • 3 groot vinkelbolle (hou die blaartjies eenkant)
  • 250 g portabellini-sampioene (gebruik wit sampioene as jy sukkel om portabellini te kry)
  • 2 knoffelhuisies, fyngedruk
  • 45 ml botter
  • 250 ml room
  • sout en varsgemaalde swartpeper na smaak

Verhit jou oond tot 200 °C. Sny die vinkelbolle in skywe. Sny elke sampioen in die helfte. Plaas dié twee bestanddele, en die knoffelhuisies, in ’n oondbak. Stip die botter daarop en gooi die room oor. Geur met sout en peper. Bak in die oond vir ’n uur. Sny van die fyn vinkelblaartjies oor, vir die mooi én vir ekstra geur.


Waar kan ek dit koop?

Vinkel is ook beskikbaar by supermarkte soos Spar, Pick n Pay, Checkers en Woolworths.