Herman, SARIE-kosredakteur, blog: Die kookboek van alle kookboeke
SARIE-kosredakteur, Herman Lensing, put inspirasie uit 'n naamlose, fotolose resepte-"skatkis"
OK, ek sal dit nou maar erken . . . ek het ’n absolute obsessie met kookboeke. Ek kan nie genoeg hê nie. Ek het so net onder die 300 boeke. Party deel van ’n reeks, ander vertel ’n storie van waar ek was, sommige is sommer net nog ’n kookboek.
My dilemma is egter dat ek nie eintlik uit die boeke kook nie. Ek vind soveel inspirasie uit die foto’s en die stories dat ek nooit eens resepte uit die boeke probeer kook nie. Ek verkies om op my eie avontuur te gaan en self te ondek wat ek kan. Boeke sonder foto’s is nie welkom op my boekrak nie. Of so het ek gedink . . .
So stuur iemand laasweek vir my nog ’n klomp boeke wat sy iewers op ’n mark gekoop het. Die boodskap op die koevert lees: Dié is nie enige kookboeke nie. Pas dit mooi op! Alles in hoofletters en baie duidelik gestel.
Ek het sonder enige afwagting die koevert oopgeskeur. Wat ’n ontstellende oomblik. Tussen die bruin papier vind ek ’n baie vaal boek. Baie oud, sonder enige foto's of iets wat lyk na inspirasie.
Min het ek geweet wat op my wag . . . Ek flans die boek oop om te sien wat so spesiaal is daaraan.
ONGELOOFLIK. Op die eerste blad van die boek is in ’n amper onleesbare skrif geskryf: “Elke resep in die boek is met liefde gekook. Elkeen vertel ’n storie en ek hoop dat jy net soos ek die vreugde van kook sal ontdek.”
Voor my ontvou ’n lewensverhaal in die kombuis. Elke bladsy wat ek lees, laat my proe aan iets anders. Ek ruik die geure van elke gereg. Proe die liefde op elke bladsy. So hier en daar sien ek ’n olie-spatsel of ’n paar kosvlekke. Op party plekke meer as ander.
Die groot kerrie-vlek by die bobotie-resep is vir my ’n aanduiding dat dié een ’n wenner is.
Iewers tussen die bladsye kom ek af op ’n resep vir gebakte lamsboud met gebraaide aartappels. Niks unieks aan dié dis nie, maar dis die woorde in die kantlyn wat trane in my oë bring. Dit lees: "Braai die aartappel in regte botter, dis baie belangrik.”
Geen verskuilde agendas nie, net lekker kos. Soos die boek vorder, lees ek van suurlemoen-skuimpoeding. Ek onthou meteens die ligte, skuimerige poeding met die dik laag onderaan die bak. My ouma het dit gereeld vir ons voorgesit.
Ek maak die boek toe en staar na die rye boeke voor my. Jamie, Nigella, Donna Hay. Hulle almal staan daar. Maar skielik lyk hulle vir my so alledaags. In my hande hou ek ’n boek wat seker beskou kan word as die manuskrip vir Suid-Afrikaanse kos, huiskos en onthoukos.
Wie ook al die skrywer van die boek was – sy was ongelooflik. Haar liefde vir kos is presies wat ek elke dag in myself sien. Ek is versot op kook. Die boek was bedóél om by my uit te kom.
Laat hoor van jul handgeskrewe boeke met die geheime resepte wat al vir generasies in die familie skuil. Ek is seker ek kan tonne inspirasie in elkeen vind!


Verwante artikels
-
David Nicholls en Sarah Blake wen Exclusive Books-pryse
SARIE September 2010
David Nicholls en Sarah Blake het elkeen 'n 2010 Exclusive Books Boeke Prize gewen.
-
Herman blog oor emosies, lysies en kook
SARIE Maart 2010 | Kommentaar: 1
Ek is mos een van daardie mense wat heeltemal te veel oor dinge dink. Ek beplan alles in detail en maak seker ek skryf 'n lysie van presies wat gedoen moet word.
-
Herman se blog: Soos ’n voël in die lug
SARIE - Desember 2009
Ek het altyd gewonder hoe dit sal wees om te kan eet saam met die voëls...
-
Herman se blog: ’n Brood in die oond
SARIE - Desember 2009 | Kommentaar: 1
“Daar is dálk beter dinge as bredie, gebakte aartappels en tuisgemaakte brood – dálk ...” het die Amerikaanse joernalis en skrywer David Grayson gesê. En ek stem heelhartig saam!
-
Nuwe kosredakteur, Herman Lensing, se puttanesca-resep
Klik vir die resep wat hy in sy RSG-onderhoud genoem het
-
Peter Veldsman-blog: "Mense en hul kookboeke"
SARIE Januarie 2010 | Kommentaar: 6
Leipoldt se Cape Cookery, Sannie Smit se vleis-kookboek, Rina Pont se Wildsvleisboek, Marcella Hazan se boeke oor die klassieke Italiaanse kookkuns... Peter Veldsman en Emily's se sjef, Johan Odendaal, praat oor hul gunsteling-resepteboeke
-
SARIE-kosredakteur, Herman, is verlief op Meryl Streep en die fliek Julie and Julia
SARIE - November 2009 | Kommentaar: 2
Herman Lensing, SARIE-kosredakteur, het 'n spesiale voorvertoning van die nuwe Meryl Streep-fiek, Julie & Julia, bygewoon. Die verhaal is watertand-lekker!



















Kommentaar
Karin Beresford het gesê:
Hi, ek is op soek na die Sarie respete boek wat so 'n groen buite blad het. Ek het die boek in 2000 gekoop maar nou is hy gesteel. Kan julle help
21ste Jun. 2011, 12:26Tessa het gesê:
ek soek 'n lekker resep vir tamaletjie lekkers het myne jare terug verloor. Baie dankie
23ste Nov. 2010, 14:48Erica Pickersgill het gesê:
My wens is dat elkeen wat dit KAN bekostig net 'n ietsie (hetsy 'n geldjie, sny brood, maaltyd, vrug, kledingstuk of selfs tyd) vir iemand wat dit benodig, sal gee. Kersfees gaan oor mededeelsaamheid, om die liefde van God uit te straal en te help waar ons kan. Een persoon kan NIE vir ALMAL help nie, maar as elkeen sy/haar deeltjie doen om iets vir iemand anders te beteken, maak dit reeds 'n GROOT verskil! :o) Laat ons die LIG vir iemand wees... Geseënde Kersfees.
26ste Nov. 2009, 20:01Elizabeth Viljoen het gesê:
Wonderlik, 'n man wat kan kook en lief is vir boeke!!
25ste Nov. 2009, 23:42Maureen O'Connell-Fitzpatrick het gesê:
Herman,wat n wonderlike ondervinding...ek het jou beny! Ja, ons vergeet dikwels dat lekker kos nie net vir die liggaam is nie, maar ook kos vir die siel is...! Stuur vir ons meer siele-kos..,die tiepe geregte wat jou laat dink, en terug verlang na die dae toe etenstyd n spesiale tyd in die dag was...
25ste Nov. 2009, 23:17Francisca De Klerk het gesê:
Ek het trane in my oë! Ek is 'n jong getroude boervrou en self baie lief vir kos maak! 'n Paar jaar terug sou ek nooit kon dink, watter groot inspirasie 'n mens se ouma en ma kan wees totdat jy self voor die stoof begin staan nie. Dis dan wanneer jy begin waarde heg aan herinneringe en geure uit ouma se kombuis. Saterdag oggend se vars oondbroodjies (jy weet ouma het dit met die grootste liefde gisteraand al begin knie, want sy weet lankal wat jy nou eers begin besef, 'n kombuis skep herinneringe), saam met moerkoffie soos net Ouma Baby kan maak! Pampoen bredie met skaapstertjies,tamaletjie patats, die lys is oneindig. Ek self is versot op kookboeke en alle kos tydskrifte (daar word nie een uitgawe oorgeslaan nie), maar net soos jy word daar net na die prentjies gekyk en dan my eie weergawe daarvan gemaak! Maar dit is daardie ou, amper flenters, handgeskrewe boeke met kos spatsels wat karakter het, en die naaste aan jou hart lê. Ek is kort kort op die foon met my ma en ouma om te hoor hoe maak 'n ma/ouma nou weer... HERINNERINGE...
25ste Nov. 2009, 19:41Annaline het gesê:
Ek het ook so 'n kookboek, met resepte in my oorlede Ouma se handskrif, die mates is in koppies, hompe en teelepels afgemeet, maar elkeen is 'n stukkie Africana. Ek het besluit om vir al my vriendinne die jaar 'n weergawe van die beste resepte in 'n boek neer te skryf, in my eie handskrif vir eendag se onthou.
23ste Nov. 2009, 12:56Wilma het gesê:
Herman.... Jy is inderdaad ook 'n inspirasie!
20ste Nov. 2009, 16:33