Herman se blog: ’n Brood in die oond
Foto’s: Micky Hoyle Galery
“Daar is dálk beter dinge as bredie, gebakte aartappels en tuisgemaakte brood – dálk ...” het die Amerikaanse joernalis en skrywer David Grayson gesê. En ek stem heelhartig saam!
Ek is versot (én verlief) op tuisgebakte brood! Ek kan borde vol brood, natuurlik met botter en konfyt, eet!
Mense vra my gereeld wat is die een ding wat ek die beste in die kombuis doen. Sonder om te aarsel is my antwoord: “Om brood te bak.” Ja, broodbak is my spesialiteit - of dit nou Franse baguettes of Italiaanse ciabatta is! Dis al tradisie in my huis om elke Saterdagoggend vroeg op te staan en die broodpanne uit te haal ... Kort voor lank sal die reuk van warm, varsgebakte brood sy weg vind na elke kamer in die huis! En daardie reuk is die beste manier om die huismense wakker te kry – en die vreugde op hul gesigte beteken dit is beter as die soetste droom!
Ja, sommiges sal seker dink dit is malligheid om op ’n Saterdagoggend saam met die hoenders op te staan om brood te bak. Maar weet jy wat? Vir my is dit eintlik ’n magiese proses van selfontdekking. Dit alles begin wanneer ek die oond aanskakel en die geluid van die waaier hoor. Dan is dit net ek en ’n paar baie eenvoudige bestanddele. Noukeurig sal ek eers die meel, gis en sout afweeg. Dan laat ek die warm water oor my hande spoel totdat die temperatuur presies reg voel - nie te warm nie, maar net perfek sodat die gis die proses van lewe gee kan begin.
Met baie liefde (want dis die belangrikste bestanddeel as jy brood bak) begin ek om alles te meng. Eers met ’n houtlepel tot ’n stywe deeg; dan gooi ek die deeg uit en begin stadig knie. Terwyl ek hiermee besig is, dwaal my gedagtes en ek begin dink oor dinge ... Goed wat nie eintlik saak maak nie, maal in my kop. Só verwerk ek alles wat die week gebeur het en maak vrede met wat ek moet aanvaar. Ander kere knie ek verwoed om van die woede in my ontslae te raak.
Ek kan voel hoe die brood tussen my hande begin vorm kry en ek beraam allerhande planne vir die deeg. Dan kom die deel van broodbak wat baie mense sonder enige moeite of omgee doen. Die rysproses. Wat baie mense vergeet, is dat dit eintlik die belangrikste deel is. Jou brood kry kans om sy eie persoonlikheid te ontwikkel. Party vat langer as ander. Die omgewing waar jy bak, speel ’n baie groot rol. En elke brood proe uniek. Op Upington, waar ek grootgeword het, kan ek nou nog my ouma se brood proe. Die geur was baie sterker as hier in die Kaap. Presies dieselfde proses, maar twee heeltemal verskillende omgewings.
Terwyl die brood rys, vang ek gewoonlik nog ’n vinnige slapie. Ek stel my Alessi-timer en hoop elke keer dat wanneer ek wakker word die geheime proses volmaak is.
Ná die rysproses is die res eintlik maklik. Ek kry die kans om my brood te vorm en te bak.
Soms is dit nodig om die deeg ’n tweede keer te laat rys om die gis se smaak te ontwikkel. Dan proe ek ’n stukkie rou deeg en begin dit vorm. Soms kyk ek ook wat in my yskas is. Partykeer is dit feta en kersietamaties, ander kere weer spinasie of mozzarella.
Ek rol die deeg noukeurig uit en strooi sommer al wat ’n ding is op daarop, vou dit toe en laat dit weer vir 10 minute rys. (Gewoonlik begin die huismense nou al beweeg.) Die brood bak ek teen 240˚C om seker te maak die kors is baie donker en krakerig. Die res is uit my hande en ek moet maar net hoop dat die brood sy ding gaan doen!
Ons eet sommer altyd die brood sodra dit uit die oond kom - daar is nie eens tyd vir afkoel nie. Elkeen gryp ’n koppie vars gebroude koffie en ons eet na hartelus aan die brood. Met elke happie wat ek eet, kan ek sien hoe almal om my dit waardeer. Almal proe die liefde van broodbak!
Broodbak is eenvoudig - dis ’n geheime proses wat jy self beheer. Komaan, dis nou vakansietyd, feestyd en natuurlik ’n tyd om liefde met mekaar te deel. Maak ’n belofte aan jouself dié vakansie om minstens een dag vroeër op te staan en brood te bak. Glo my, jy gaan die resultaat só geniet dat dit deel gaan word van jou lewenswyse!
Hier is nog brood-inspirasie van SARIE:
In die nuwe SARIE KOS Somer 2009-'10 het Barbara Joubert 'n beet-potbrood gebak. Bloedrooi en heerlik! SARIE KOS Somer is vanaf 9 Desember 2009 te koop.
Verwante artikels
-
"Die dag toe ek vir Ronaldo sien!" SARIE se Herman vertel
SARIE - Junie 2010
Oukei, ek is mos maar ’n plattelandse seun van Upington en as dit by celebs kom, verloor ek sommer kop.
-
Herman blog oor emosies, lysies en kook
SARIE Maart 2010 | Kommentaar: 1
Ek is mos een van daardie mense wat heeltemal te veel oor dinge dink. Ek beplan alles in detail en maak seker ek skryf 'n lysie van presies wat gedoen moet word.
-
Herman se blog: Soos ’n voël in die lug
SARIE - Desember 2009
Ek het altyd gewonder hoe dit sal wees om te kan eet saam met die voëls...
-
Herman, SARIE-kosredakteur, blog: Die kookboek van alle kookboeke
SARIE - November 2009 | Kommentaar: 7
SARIE-kosredakteur, Herman Lensing, put inspirasie uit 'n naamlose, fotolose resepte-"skatkis"
-
SARIE-kosredakteur, Herman, is verlief op Meryl Streep en die fliek Julie and Julia
SARIE - November 2009 | Kommentaar: 2
Herman Lensing, SARIE-kosredakteur, het 'n spesiale voorvertoning van die nuwe Meryl Streep-fiek, Julie & Julia, bygewoon. Die verhaal is watertand-lekker!
-
Willie Harcourt-Cooze, sjokolade-'towenaar', by die Good Food & Wine Show
SARIE - Mei 2010
Die jaarlikse Good Food & Wine Show vind volgende week van 13 – 16 Mei in die Kaap plaas. Groot name om voor uit te kyk is die meester Gordon Ramsay, die Italianer Giorgio Locatelli en meester-pâtissier Eric Lanlard.
















Kommentaar
best life cycle mutual funds het gesê:
The latest truly incredible account. Bar-b-que. Extremely pressuring!! Tripped through answer
14de Jan. 2011, 21:25