Unsplash

Unsplash

Kos

Kan avokado’s vinniger ryp word in die oond?

Jy kan harde avokado’s binne minute in jou oond sag maak, as jy die praatjies op die internet moet glo. 

Is dit waar? Ek het besluit om die teorie te toets en self te besluit. Want wie kan nou nee sê vir roomsagte avokado’s wat wegsmelt in jou mond, saam met growwe sout en witpeper?

Die teorie

’n YouTube-video wys ’n blogger wat avokado’s in foelie toedraai en in haar oond sit by 200 grade Celsius. Ná 10 minute is die vrugte sag en sy smul heerlik daaraan. Kyk hier

Die toets

Ek het 6 harde avokado’s by ons plaaslike supermark gekoop en elkeen in foelie toegedraai. Ek het almal saam in die oond gesit en ná elke 10 minute een verwyder, laat afkoel en dan getoets of hy murgsag is.

Avo Tinfoelie

6 Onryp-avoklas toegedraai in tinfolie reg vir die oond

Avokado 1 

Ná 10 minute in die oond: die skil het effens verkleur, maar dit voel steeds baie ferm.

     Avo 10 min oond

Die avokado is afgekoel en oopgesny. Geen duidelike verskil nie, die vleis is steeds te hard om te eet.

Avokado 2

Ná 20 minute in die oond: die skil het meer verkleur, maar dit voel steeds baie ferm. Om die punt van die avokado kan jy voel hy versag.

Avo 20 min oond

As jy die vrug oopsny nadat hy afgekoel het, is die vleis duidelik sagter as by nommer een, maar steeds nie “ryp” nie.

Avokado 3

Ná 30 minute in die oond: die skil het heeltemal verkleur, die skil is sag as jy daaraan raak. Jy kan glo hy gaan “ryp” wees.

Avo 30 min oond

As jy die vrug oopsny nadat hy afgekoel het, is die vleis baie sagter en jy kan dink hy is ryp. Maar die tekstuur is baie draderig en dit smaak “gaar”.

Avo 30 min oond oop

Avokado 4 en 5

Ná 40 minute (en 50 minute) in die oond: dié twee lyk dieselfde, maar die skil begin oopbars en die vleis is baie sag. Dit begin vir my ruik soos gaar pampoen. Ek verloor skielik my eetlus vir avokado en vergeet om die een ná 50 minute af te neem!

Avo 40 min oond

Avokado 6

Ná 60 minute in die oond: die skil is heeltemal swart, die vrug is byna swart en dit lyk soos ’n oorryp avokado. Die vleis het steeds ’n groen kleur nadat dit afgekoel het. Ja, dis sag, maar sodra ek dit proe, dink ek aan gestoomde skorsie. Daar is nie ’n bottersagtheid wat in my mond smelt nie, maar ’n draderige tekstuur wat my eetlus nou finaal demp!

Avo in Oond

Die beslissing

Ja, die vrug word metteryd sagter, maar dis omdat hy gaar word pleks van natuurlik versag en geure ontwikkel. Enige groen vrug sal sag raak as jy dit lank genoeg bak, maar dit beteken nie jy gaan geur kry nie. Die les wat ek weer hieruit geleer het: goeie kos neem tyd – wees geduldig en dit sal op sy beste smaak!

Só maak jy avokado’s vinnig ryp, het my ma my geleer:
1. Plaas avokado’s in ’n kardoes (papiersak) of koerantpapier saam met ’n ryp piesang.
2. Draai die sak of koerantpapier stewig toe en plaas in donker kas.
3. Los vir 3 – 4 dae en toets ná ’n paar dae of die vrugte sag is.
4. As ’n avokado perfek ryp is, val sy klein bruin stingelpunt maklik af.

Hoekom piesang?

Tropiese vrugte soos piesang, papaja en pynappel skei etileen, ’n gas, af wat die rypwordproses aanhits. Die toedraai help om die gas binne te hou.

Lekker kook!

Herman

  • Koos

    Goeie werk om die proses eksperimenteel te toets. Watter varieteit avokado is gebruik? Die papiersak rypmaak is nie ‘n ensiem nie, ensieme (proteiene) reis meestal nie so lekker deur die lug nie. Wat wel afgeskei word is etileen (C2H4), ‘n gas wat die rypwordproses aanhits. Vandaar die toedraai om die gas binne te help hou.

    • Lucelle

      Baie dankie, Koos. Jy is 100% reg – dis ons fout. Ons het dit nou reggestel!