FOTO www.gettyimages.com

FOTO www.gettyimages.com

Kos

Maak só met kosvlekke

Ons almal ken daai oomblik as jy jou mooiste rok of nuwe hemp aantrek en vinnig ’n koppie koffie afsluk voor werk. Maar natuurlik, met jóú geluk mors die koffie sommer op jou hemp … En hoe gemaak met daai glas rooiwyn wat omval en op jou mat beland, of die lastige koskolle op jou broek?

Hier is raad vir 5 kolle wat gereeld ongenooid in my huis kom kuier.

1. Koffie

Ons almal ken daardie wit hemp of rok waarop jy per ongeluk koffie gemors het. Dit lyk dalk na min skade, maar koffievlekke wat jy nie behandel nie kan jou klere ruïneer.

Wenk Spoel dadelik die vlek onder lopende koue water uit. Dit sal die vlek onmiddellik verwyder. As die vlek droog geword het voor jy dit gesien het, plaas ’n paar druppels skottelgoedseep op die vlek en laat dit staan vir ’n uur. Moenie daaraan vryf nie. Was dit in koue water.

2. Tamatiesous

Ai, dis mos lekker om ’n vuurwarm slaptjip in tamatiesous te doop. Maar die kans dat dit op jou klere gaan beland, is altyd daar. Hoe gemaak om vinnig van dié kol ontslae te raak?

Wenk Moet nooit tamatiesouskolle in warm water was nie! Baie souse bevat kleurmiddels wat geaktiveer word as dit warm water kry en die vlekke sal dieper in jou klere intrek.

Meng sowat 80 ml witasyn by 10 liter koue water met 10 ml skottelgoedseep. Plaas jou kledingstuk in die water en laat week vir minstens ’n uur. Vryf liggies op die kol. Herhaal indien nodig – maar onthou, hou die kol weg van warm water!

3. Rooiwyn

Hierdie kol het al baie by my huis kom kuier! Sy maak haar verskyning op my matte ná partytjies of sommer op my duur wit hemp terwyl die partytjie nog aan die gang is.

Wenke Die heel belangrikste is om altyd die gemors op een plek te probeer hou. Moenie die vlek probeer skoonvee nie! Plaas eerder ’n handdoek op die kol om te verhoed dat dit verder versprei. Lig die handdoek op en sprinkel sout oor die kol. Plaas ’n skoon handdoek bo-oor en sprinkel nog sout oor. Los dit vir ’n uur sodat die sout en die handdoek hul werk kan doen. Lig die handdoek op en gooi dan witwyn bo-oor die kol. Was eers dan jou matte.

Vir jou klere Gooi dadelik iets suurs bo-op die rooiwynkol, soos wit asyn of witwyn. Die suur laat die kleur verdwyn. Was dit so gou jy kan daarna.

4. Sjokolade

Wie kan nee sê vir sjokolade? Ek weet ek sukkel daarmee. Maar so nou en dan as ek weglê aan ’n stukkie koek, eindig dit op my klere!

Wenke Hou dit weg van warm water. Ek weet dit maak nie sin nie, want die sjokolade sal mos wegsmelt onder die warm water. Om te keer dat die vet van die sjokolade diep in jou klere intrek, draai die kledingstuk om en behandel die vlek van agter af. Plaas ’n stukkie papierhanddoek bo-op die kol en dan sprinkel jy kouewater en asyn agterop die vlek. Laat dit vir ’n uur staan. Druk op die kol van agteraf op die papierhanddoek. Die meeste van die sjokolade sal in die papier vassit. Was dadelik met gewone waspoeier.

5. Olie en vet

Dít is een van die moeilikstes om uit ons klere te kry. Maak nie saak hoe netjies jy kook of eet nie, op een of ander manier eindig dit op jou klere. Hoe gemaak? Hier is die beste raad wat ek nog gekry het, en dit kom van sjef-vriend Jenny Ward!

Maak so: Koop suiwer etanol-alkohol by jou apteek en hou dit in jou kas. Sodra jy die vetkol op jy klere sien (wit of kleur), sprinkel ’n paar druppels van dié skoon alkohol bo-op. Laat staan vir sowat 20 minute en was dan dadelik. Glo my, dit werk! (As jy nie die alkohol byderhand het nie, kan jy ook ’n paar druppels suurlemoensap probeer.)

Laaste nota:

Jou eerste instink is om kolle te wil vryf en onder baie warm water te was. Ek het uit ondervinding en met meeste vlekke geleer: moenie vryf nie en bly weg van warm water. Dit laat die vlek dieper intrek in jou klere!