FOTO Donna Lewis

FOTO Donna Lewis

Kos

Mojito-koek: Perfek vir die somer!

Dié sponskoek gaan ’n treffer raak in jou huis. Jy kan sy geur aanpas met die stroop wat jy oorgooi.

Bestanddele:

• 6 eiers
• 260 g (325 ml) strooisuiker
• 115 g (125 ml) botter, gesmelt
• 5 ml vanieljegeursel
• 260 g (460 ml) koekmeel

STROOP
• 80 ml wit rum
• 200 g (250 ml) ligbruinsuiker
• 2 takkies kruisement

VERSIERSEL
• skil van 2 lemmetjies
• 100 g (110 ml) sagte botter
• 250 g (480 ml) versiersuiker
• 250 g roomkaas, kamertemperatuur

Metode:

Verhit oond tot 180 °C. Plaas eiers en suiker in elektriese menger se bak
en plaas op pot met kookwater. Klits met draadklitser tot eiermengsel
begin louwarm raak – toets met jou vingerpunt. Plaas bak in menger en klits by hoë spoed vir 8 – 10 minute tot dik skuimmengsel vorm. Voer intussen twee 18 cm losboompanne met bakpapier uit en spuit goed met kleefwerende kossproei. Voeg botter, vanielje en meel by eiermengsel en vou versigtig in met slaplemmes. Verdeel mengsel tussen panne en bak vir 25 – 30 minute of tot goudbruin en gaar.

STROOP
Bring terwyl die koek bak die bestanddele vir die stroop tot kookpunt. Gooi stroop oor warm koeke en laat afkoel.

VERSIERSEL
Klop bestanddele vir versiersel saam tot lig en romerig. Plaas een koek op dienbord en smeer helfte van versiersel bo-op koek. Plaas tweede koek bo-op met pankant na bo. Spuit klein ronde rosette bo-op koek met oorblywende versiersel. Versier koek met ekstra vars kruisement en gerasperde lemmetjieskil.

Teetafels wat kreun onder gebak met die geure van mengeldrankies is die voorspelling vir dié somer. Dink aan die soet smake van aarbei-daiquiri in ’n yskastert of die geur van mojito se lemmetjie en kruisement in koeke. Die internasionale kostydskrif Delicious. het in hul somer 2016-uitgawe vroeër vanjaar reeds ’n jenewer-en-tonikum-tert (gin & tonic) op die voorblad gehad en die Britse tydskrif Olive het gespog met ’n mojito-tert op hul voorblad. Gee jou verbeelding vrye teuels en probeer nuwe geure en smake in jou gebak. Miskien kan koeksisters gedompel in lemoenbloeisel-en-brandewynstroop die nuwe Brandy Alexander op jou teetafel wees!