sarie024
Kos

Murgpampoentjie-cannelloni

’n Lekker ligte weergawe van die bekende gereg, met murgpampoentjie eerder as pasta. Koop ekstra-groot murgpampoentjies en sny dit in lang dun stroke.

genoeg vir 4

Sous
• 400 g klein rosa-tamaties
• 2 knoffelhuisies, fyngekap
• 30 ml olyfolie
• sout en varsgemaalde swartpeper

Vulsel
• 30 ml olyfolie
• 250 g strepiespek (streaky), in blokkies gesny
• 500 g ricotta-kaas
• hand vol basiliekruidblare, fyngekap
• 1 eier, geklits
• sout en varsgemaalde swartpeper
• 2 groot murpampoentjies

Garnering
• 50 g parmesaankaas, fyngerasper
• vars basiliekruidblare

Verhit oond tot 200 °C. Sous Plaas tamaties en knoffel in ’n voedselverwerker en kap fyn. Verhit olyfolie in ’n diep pan en voeg fyn tamaties by. Geur met sout en peper. Laat kook oop tot sous verdik het. Vulsel Verhit olyfolie in pan en voeg spek by. Braai spek tot bros. Dreineer op kombuispapier. Plaas ricotta-kaas in ’n mengbak en voeg spek, basiliekruid en eier by. Meng goed met vurk en geur met sout en peper. Sny murgpampoentjies in lengte in 8 lang dun plat stroke. Plaas stroke in plat bak en gooi kookwater oor. Laat staan sowat 10 minute. Pak stroke op kombuispapier om droog te word. Skep ’n klein bietjie sous in ’n oondvaste opdienbord. Plaas een strook murgpampoentjie op werkvlak en skep groot lepel vol vulsel bo-op. Rol toe en plaas bo-op sous op opdienbord. Herhaal met res van murgpampoentjiestroke. Skep res van sous bo-op gevulde murgpampoentjies en sprinkel helfte van kaas bo-op. Plaas in oond en oondbak 30 minute. Haal uit, sprinkel res van kaas oor en garneer met vars basiliekruidblare.