Om te drink

Daar is hoop vir ons land

‘n Mens kan nie anders nie as om hierdie artikel te begin met ‘n aanhaling deur emeritus-aartsbiskop Desmond Tutu. In sy boek God has a dream skryf hy: “In God’s family, there are no outsiders, black and white, rich and poor, gay and straight, Jew and Arab, Palestinian and Israeli, Roman Catholic and Protestant, Serb and Albanian, Hutu and Tutsi, Muslim and Christian, Buddhist and Hindu, Pakistani and Indian, all belong.” En dit is kortom wat met hierdie Tables of Peace and Unity bereik word.

Eers het ons almal saam letterlik brood gebreek en dit met dié naaste aan ons gedeel. Oombliklik was die koue en mistigheid buite ver weg van hierdie knus, lang tent met die tafel wat meters en meters ver gestrek het.

Louise Cashmere, die innoveerder agter dié Tafels, het gesê dis ‘n absolute vreugde om die positiewe energie aan te voel en almal uit verskillende lewensterreine byeen te sien vir dieselfde doel: vrede en eenheid in Suid-Afrika.

 

Elkeen van ons kan ‘n verskil maak aan die lewens van siekes, huisloses, kinders sonder ouers, mishandelde kinders en diegene in plakkerskampe wie se enigste wonings afgebrand het. – Louise Cashmere

 

Woorde soos “kan nie” bestaan nie, sê Louise. “God verwag van ons om te probeer. As jy vir jouself sê ‘watter verskil kan ek tog nou maak?’, sal jy niks doen nie. Maar daar is krag in getalle. Ons hét die vermoë om ‘n groot verskil in Suid-Afrika te maak deur minstens een persoon se lewe aan te raak… Stap weg van jouself na ander toe in nood.”

Deur die hou van dié liefdadigheidsgeleentheid is deur die jare al soveel vermag. Só is ‘n tehuis vir mishandelde kinders onder meer in Soweto gebou. Groentetuine is aangelê en werklose vroue word nou betaal om kinders veilig by die skool te besorg. In Port Elizabeth is noodsaaklike skole opgerig en landwyd, ‘n paar biblioteke. Die Rooikruis-Kinderhospitaal spog nou met ‘n afdeling waar mishandelde kinders berading kry terwyl ‘n nuwe ventilator duisende se lewens red. Vanjaar is geld vir verskillende liefdadigheidsorganisasies vir kinders, soos die Rooikruis en die kinderafdeling van die Tygerberg-Hopitaal, ingesamel. 

Dit was duidelik dat al wat bekende Suid-Afrikaner is ook al betrokke geraak het, want oral op die wit tafeldoek was handtekeninge van politici soos Patricia de Lille, FW de Klerk en Tony Leon en van kunstenaars soos Pieter-Dirk Uys en Hugh Masekela.

Die omroeper Shado Twala was die seremoniemeester en ons was bevoorreg om een van ons nuwe Idols, Sasha-Lee Davids, te hoor sing. Ander kunstenaars wat opgetree het en hierdie dag in lig gehul het, was CODA, Heinz Winkler, Louise Carver en die Gugulethu Tenors.

Die borge van dié spesiale dag het Spekko Rice en Pick n Pay ingesluit. Hulle kan met reg trots wees op die spyskaart wat berei is deur die bekende sjefs Peter Tempelhoff van die Cellars-Hohenort Hotel, Peter Robertson van KIKS en Jerome Peters van die Granger Bay-hotelskool, wat almal aan die hoof van groot kosspanne gestaan het. Maklik was dit sekerlik nie om aan 700 gaste gelyktydig kos te bedien en te sorg dat die geregte wat warm moet wees, warm was nie!

Die voorgereg was masala-snoek, Maleier-styl met Spekko- en Basmati-rys en ‘n soet-brandrissie-peper-sousie. Die hoofgereg was lamslende, geglasuur met heuning en roosmaryn en bedien met opgejazzde rys en baba-groente. Die maal is afgesluit met ‘n duo van grenadella en sjokoladement-bavarois. Aan ons tafel is Spier se Sauvignon blanc en Chenin Blanc voorgesit. Daar was ook rooiwyn.

Sonder om twee keer te dink, het Kapenaars nie net die R350 per kaartjie uitgehaal nie, maar ook die koeverte wat rondgestuur is volgestop met geld vir die liefdadigheidsorganisasie van jou keuse. En dít gee mens sommer baie hoop vir die toekoms van ons land.

Sorg dat jy ook volgende jaar betrokke raak!