alchemy7
Om te drink

Mengeldrankies: Dis maklik!

‘n Paar wynskrywers het onlangs opgeruk na die bekende sjef Peter Goffe-Wood se kosakademie in Soutrivier. Al was ek voorheen daar en al het ek ‘n GPS, is dié reuse-koskompleks met sy hiper-moderne kombuis nie maklik te vind nie in daardie onbekende deel van die Kaap waar baie strate nie eens naamborde het nie.

Maar so aanvaar ek die uitnodiging. Ek het immers enkele jare gelede ‘n medalje vir my joernalistieke bydrae tot die brandewynbedryf ontvang en is daarom lid van die gesogte Suid-Afrikaanse Brandewyngilde. ‘n Groot eer.

Met my aankoms by die kosakademie heers daar groot opwinding en dis heerlik om weer die wynbedryf se mense uit Johannesburg te sien.

Eers sit ons aan vir tuisgebakte appeltert, pizza en ander snoeperye, soos net Peter kan berei. Die tee kalmeer my ná die verdwaalslag en uiteindelik sit ons aan. Eers vir ‘n brandewynproe. Die aantreklike Thabo Ramashala van Alchemy of Gold kom vertoon van hul produkte. Daar’s Van Ryn se 10 Jaar Oud, Nederburg se potgedistilleerde Solera-brandewyn, Flight of the Fish Eagle, Klipdrift Gold en Oude Meester se Demant.

Maak nou só 

Een ding wat ‘n mens natuurlik van brandewyn moet weet, is dat jy dit nie, soos met wyn, skud voor jy dit neus nie. Dis ‘n vlugtige produk en jy wil nie die verskillende geurlae deurmekaar skommel nie.

  • Nadat die kleur jou ‘n aanduiding van die ouderdom gegee het – donkerder beteken langer in hout en daarom ouer – neus jy die produk op ‘n afstand.
  • Dan som jy die geure op.
  • Bring nou jou neus ‘n bietjie nader aan die glas en ontdek die tweede geurlaag.
  • Sit daarna jou neus binne-in die bolglas om die derde geurlaag in te asem.
  • Interessant dat al die lae se aroma verskil.
 

Die brandewyne wat ons geproe het, kos tussen R90 en R190 elk. Omdat hulle sag en gesofistikeerd is, drink jy hulle in ‘n bolglas. Skoon, met ‘n teelepel water by as die smaak te skerp is vir jou, of met ‘n bietjie ys. En ja, ‘n hele 25% van brandewyndrinkers is vroue. Brandewyn is ‘n gesofistikeerde produk wat net van die hart (die beste deel) van die distillaat gemaak word, jare in hout verouder en met die grootste sorg berei word.

Jonger, goedkoper produkte maak uitstekende mengers en is ideaal saam met kola (coke), gemmerlim, soda, water of lemoensap - net waarvan jy hou. Só ‘n mengeldrankie word natuurlik in ‘n lang glas voorgesit.

My gunsteling onder dié wat ons geproe het, is loshande Oude Meester se Demant. Dis ‘n versnit van brandewyne wat tot 10 jaar oud is. Demant is ‘n sagte brandewyn wat ek, dalk gewaagd, as “vroulik” sal beskryf. Afhangend van waar jy die Demant koop, kos dit tussen R110 en R160 per bottel.  

Ná die proe word ons in spanne verdeel en ek, Irene Jones en Jason Whitehouse kry ‘n werkstasie en ‘n uur om twee mengeldrankies te prakseer. Van mengeldrankies drink, dié weet ek. Maar, soos met kosmaak, is my kennis van selfgeskepte resepte bykans nul.

Elke span kry verskillende bestanddele en jy kan hulle meng en pas nes jy wil. Of “bykomstighede” van ‘n ander se skinkbord af skollie om jou eie skepping te maak.

Nie ek of Irene is kosmakers nie en sukkel vreeslik met die versapper. Maar ons kom reg. Ons 3 skep eers ‘n mengeldrankie vir ‘n Martini-tipe glas. Ons doop haar One Hot Minute. ‘n Gemmer-brandrissiesmaak sal sy hê, besluit ons.

Die bestanddele lyk rofweg so:

  • fyn vars gemmer
  • opgekapte brandrissie (min, dis sterk!)
  • sitroengras
  • koljander
  • ‘n skeutjie mangosap
  • Flight of the Fish Eagle-brandewyn

Vul dan die glas met gemmerlim. Daar is nie eintlik mates nie. Synde wynkenners, voeg ons ‘n bietjie van dit en ‘n bietjie van dat by totdat die smaak net reg is.

Al is die brandrissie effens skerp, gee dit hierdie drankie ‘n pikante smaak. Ons het nie die kompetisie daardie dag gewen nie, maar sal One Hot Minute vir dié van julle wat van sterk goed hou, aanbeveel.

Ons tweede poging, een vir die langer glas, het ons Tropical Demantgenoem.  

Die bestanddele sluit in:

  • mangosap
  • vars papaja
  • vars pynappel
  • limonade
  • ys
  • klapper
  • Oude Meester Demant

Omdat ek skuldig gevoel het oor my vrees vir enigiets wat na resep ruik, het ek liewer die versiering vir die lang glas geprakseer. (Sien meegaande foto.)

Die One hot minute-drankieNog &aposn mengeldrankie

Van die ander spanne was geweldig kreatief. Daar was van sjokolade- tot aarbei-drankies. En mooi! (Sien meegaande foto’s.) Die name was net so kreatief. Soos Brandy Sparkle, Ginger Gold, Solera Nights, Crash Landing, Separation Anxiety en ‘n Sexy Zip!

Wat my net weer eens laat besef het: Brandewyn is een van die veelsydigste produkte. Een waarmee jy eindeloos kreatief kan omgaan!

Die eerste mengeldrankie

Sover bekend het mengeldrankies aan die begin van die 19de eeu in Amerika ontstaan, daarna ‘n bietjie in gewildheid afgeneem en toe weer die verbeelding aangegryp. Nes die laaste 10 jaar. (New Orleans, Amerika, het deesdae selfs sy eie skemerkelkie-museum.)

Waar kom die woord cocktail vandaan?

  • Die woord cocktail is ook vir die eerste keer in die vroeë 1800’s gebruik. Oor die ontstaan daarvan is verskeie teorieë. Een lui daar is na vatkrane as “cocks” verwys, terwyl die woord “tails” verwys het na die oorblyfsels van die distilleringproses of dié op die bodem van die vat. Die oorblyfsels in die vate is dan deur taverne-eienaars gekombineer en aan hul klante as “cock tailings” aangebied. 
  • In New Orleans is spiritualieë soms voorgesit in ‘n eierkelkie wat ‘n coquetier genoem is. ‘n Woord wat moontlik later “cocktail” geword het, sê ‘n ander teorie.
  • Die derde bespiegeling lui die verskillende kleure van ‘n hoenderhaan se stert is moontlik vir die naam van die drankie verantwoordelik.

Die aard van die mengeldrankie het deur die jare drasties verander.

Aanvanklik het dit bestaan uit ‘n kombinasie van gedistilleerde spiritualieë, suiker, water en bitterwyn, maar nou, meer as 200 jaar later, gebruik ons enige alkoholiese drank en het die produk groot verfynings ondergaan. Brandewyn is van die gewildste elemente daarin!

*Skink & Klink sal van tyd tot tyd resepte van beproefde brandewyn-mengeldrankies in SARIE plaas. Kyk uit daarvoor.