die_sterre
Om te drink

Seën die druiwe met jazz

Enigiemand wat daar was, kon daarna breëbors wegstap met dié wete: Suid-Afrika se musiektalent hoef nie vir dié van enige ander land terug te staan nie.

Die idee agter die Spier-oesfees is om die seën te vra op die eerste druiwe van die parsseisoen. En hierdie wynplek doen dit in styl.

Die aktiwiteite het al die oggend begin: Daar was ponieritte, druiwetrap, speletjies vir die kinders en wynproeë. Plaasvars kos is aan die oestafel onder die eike voorgesit: tapas met wyn (én jolige musiek).

Hier teen halfnege die aand was die ouditorium vol en die opwinding voelbaar. Ek was nuuskierig om vir die eerste keer die operaster Zanne Stapelberg te beleef en om die nuwe sangsensasie Nomfusi te kon hoor. Nomfusi is die musikant Philip de Villiers se protegé en van haar het ek nog net belowende dinge gehoor. Synde ook een van Judith Sephuma se grootste aanhangers, sou dit ‘n bonus wees om haar weer te kon hoor.

Ek was nie teleurgesteld nie. Wat eerste van Zanne opgeval het, was haar blootstelling aan wêreldverhoë. Nie net is haar stem iets om van rillings – in die positiewe sin – te kry nie, maar is dit duidelik dat sy elke ding waaroor sy sing op daardie oomblik beleef. Ook dus ‘n aktrise van formaat, kan ‘n mens raai. Haar stem, skoonheid én oorvloedige uitrustings het mense letterlik na hul asem laat snak.

Al wat ek van Judith kan sê, is dat sy een van ons grootste sterre bly. Wat ‘n talentvolle, mooi vrou!

Buiten ‘n goeie stem, het Melanie ‘n aansteeklike verhoogpersoonlikheid en dit was gou duidelik dat sy besonder gewild is. Sy lyk soos ‘n elfie en in haar rooi rok het sy die gehoor om haar pinkie gedraai. Immers gewoond aan ‘n wêreldwye skare van een biljoen toe sy in 2003 by die President’s Cup-gholftoernooi opgetree het.

Toe kom die broos, jong Nomfusi aan die beurt. Hier kom groot dinge! Sy het ‘n stem wat sy ek weet nie waarvandaan nie uit daardie lyfie haal en met selfvertroue projekteer. Sy’s ook so mooi! Indien jy haar ooit in aksie kan gaan beluister, maak so. Dalk SA se volgende Miriam Makeba?

Koos Kombuis was so uit plek soos groen gras op die dashboard van ‘n Jaguar. Onbillik om die divas met hóm af te wissel. Ja, hy is ‘n karakter. Ja, hy skryf goed. Ja, die mense is mal oor hom. Oor sy sang en verhoogoptrede daardie aand wil ek liefs nie uitwei nie. Maar, ek moet sê: “Lisa se klavier” gaan Africana word.

Die Filharmoniese Orkes wat die sterre begelei het, was van hoogstaande gehalte . . . En hoe aantreklik lyk Schalk Joubert, kitaar in die hand, nie op die verhoog nie!

Hulle noem die fees die Spier Harvest Festival. As jy dié een gemis het, kyk volgende jaar rondom Februarie/Maart uit vir die volgende Legends-konsert.