Om te drink

Top-sjef François Ferreira vereer

Hy’s ‘n fynproewer, sjef, kosskrywer, radiopersoonlikheid én vermaaklikheidskunstenaar. Dis François Ferreira, bekend vir sy sjarmante persoonlikheid en flambojante kleredrag.

François (48) is onlangs in die Sandton Sun vereer vir sy bydrae tot die brandewynbedryf en het só die jongste lid van die gesogte SA Brandewyngilde geword. Hy skuur nou skouers met bekende lede soos prof. Kader Asmal, skrywer André P. Brink, Trevor Manuel, dr. Franklin Sonn en top-sjef Peter Veldsman.

François het al gekook vir staatspresidente en ken ook die eetgewoontes van bekendes soos Margaret Thatcher, vroeër Britse eerste minister.

François is toegewy aan brandewynopvoeding. Sy feesproduksies sluit in Cocktails and Crooners en Brandy, Bokkems and Blues. Daarin kombineer hy sy brandewyn- en koskennis om ‘n produksie van formaat op die planke te bring.

Hy woon in George waar hy die Eden School of Culinary Art gestig het. Terselfdertyd bevorder hy die R62-brandewynroete so waar hy kan. François is ook die hoof van die Chaine des Rotisseurs in die Outeniekwa-streek, waar hy betrokke is by die Jong Sjefs-kompetisie. Daarby tree hy op as restaurant-konsultant en is hy ‘n lid van die Slow Food-vereniging. François het glad al ‘n merietetoekenning van die staatspresident ontvang.

Die wynkenner Dave Hughes was die gasspreker die aand toe François vereer is. ‘n Paar interessante brandewynfeite wat hy uitgelig het:

Brandewyn in SA

  • Suid-Afrika maak die wêreld se beste brandewyn. SA brandewyne word bykans jaarliks amptelik aangewys as die beste ter wêreld.
  • Ons land maak ‘n wye verskeidenheid brandewyne: Van bekroondes tot jonges, wat ideaal is om saam met kola te drink, tot die ligte soort wat in mengeldrankies gebruik word.
  • Sowat ‘n kwartmiljoen Suid-Afrikaners verdien hul brood en botter uit die brandewynbedryf.
  • 25% van brandewyndrinkers in SA is vroue. Vroue drink brandewyn meestal in ‘n mengeldrankie of saam met ‘n menger (soos gemmerlim, lemoensap, soda of kola).
  • Daar word deesdae ook kleurlose potgedistilleerde brandewyne gemaak.
  • ‘n Groot opvoedingstaak lê nog voor. ‘n Onlangse studie toon dat 30% van brandewynverbruikers in SA nog nie weet dat brandewyn van druiwe gemaak word nie!