Kos

Plant jou oorskietgroente!

Ja, jy lees reg: Plant jou oorskietgroente. Só spaar jy, want jy kan later weer en méér daarvan eet. 

Gee só jou “oorskiet” weer nuwe lewe. Hier is wenke om 5 van ons gunsteling-groentes maklik self te kweek!

Blaarslaai

Blaarslaai, bok choi en kool is betreklik maklik om te kweek uit oorskiet. Pleks daarvan om die oorskietblare weg te gooi, kan jy dit eenvoudig in 'n bak met 'n bietjie water onderin plaas. Sit die bak op 'n plek waar dit goeie sonlig kry en sproei twee tot drie keer per week 'n bietjie water oor. Ná 3 of 4 weke sal die wortels uitskiet en nuwe blare begin groei. Wanneer dit gebeur, kan jy jou blaarslaai of kool in 'n potjie plant.

Soetrissies

Jy kan 'n hele paar soetrissies kweek van die saad wat oorgebly het. Haal die pitte uit jou soetrissies, jalapeño's of enige ander rissies wat jy graag eet. Plant dit in vrugbare grond in direkte sonlig. Rissies groei taamlik vinnig en het nie baie sorg nodig nie.

Seldery

Seldery is een van die maklikste groentes om te kweek. Sny net die onderkant van die selderystingel af en sit dit in 'n bak met 'n bietjie water onderin. Hou die bak so lank moontlik in direkte sonlig en ná ongeveer 'n week sal daar 'n steggie uitskiet. Wanneer dit gebeur, kan jy jou seldery in grond oorplant. Wag dat die seldery tot die volle lengte groei voordat jy dit oes.

Avokado

Die avokado se pit kan gebruik word om jou plantjie te kweek en oor tyd jou eie boom te plant. Steek 4 tandestokkies al om die pit in en plaas oor 'n glas met kraanwater. Die water moet genoeg wees om minstens 2 cm van die pit se onderkant te bedek. Hou die houer in 'n warm plek, maar nie in direkte sonlig nie en onthou om die water elke dag aan te vul sodat die pit nat bly. Dit kan tot ses weke duur voor die wortels verskyn. Sodra daar 'n dikker wortel uitloop, kan jy die pit plant. Gee dit gereeld water en plant dit in 'n warm deel van jou tuin wat nie direkte sonlig kry nie.

Tamaties

Tamaties kan geplant word deur die saadjies te behou. Spoel die saadjies mooi af en laat dit in die son droog word. Plant in 'n klein potjie met vrugbare grond. Sodra die plantjie bietjie groter is, kan jy dit oorplant in 'n groter pot. Hou in 'n deel van jou tuin wat gereelde son kry.

Screen Shot 2016-05-31 at 11.44.30 AM

 

Lees ook

Inspirasiekos met SARIE  plus wenke vir jou eie groentetuin

Almal eet nou “superkos” kale

Groente is die nuwe vleis