Proe-blog

Ons speel MasterChef

DIE SLAG VAN BANGHOEKVALLEI – dís wat eendag langs 10 Februarie 2012 in die kosgeskiedenisboeke sal staan. Of, nóg waarskynliker: Die Sálige Slag van Banhoekvallei, want al is dié vrydag gekenmerk deur ’n bomenslike gespat en gestoom, ’n geswets en gestres, het die stuitigheid nooit agterweë gebly nie.

Met die eg inheemse weergawe van die TV-trefferreeks MasterChef wat beloof om die nasie oor die volgende paar weke kwylend voor die kassie vasgenael te hou, het SARIE KOS besluit om suiwer vir die pret hul eie mini-weergawe – Wil kook, kan kook – by Letitia Prinsloo se Institute of Culinary Arts in die Banhoekvallei buite die Eikestad aan te bied.

Drie amateurkokke wat verlede jaar saam met duisende ander Suid-Afrikaners opgedaag het om MasterChef SA se keurpaneel met ’n koue kosskepping te beïndruk, maar helaas nie deurgedring het nie, is na dié kits-kookkotiljons genooi. Daar moes die Stellenbosser Ilse van der Merwe, Mario Botha van Cresta, Randburg, en Marcell Greeff van Pretoria lootjies trek om te bepaal watter lid van die SARIE KOS-redaksie – Barbara Joubert, Herman Lensing of Melissa Pecoraro – hul spanmaat gaan wees.

Errieda du Toit van RSG se Huiskok Glanskok-faam is opgekommandeer om nie net die mandjies geheime bestanddele vir die drie spanne saam te stel nie, maar om ook saam met Mnr. Glanskok, Francois Ferreira van george, as Wil Kook, kan kook se beoordelaars op te tree. En as kersie op die koek het Le Creuset ingestem om pryse te gee . . .       

11:40

“Voor julle mag sien wat die vyf bestanddele in die mandjie is, moet julle kies watter wilde perd julle gaan opsaal: óf ’n boksie persskil-Avignon-vye óf ’n houer enorme porcini-sampioene,” kondig Errieda aan, die een bestanddeel so vandagvars en verleidelik soos die ander uit die Keurkos-Spar digby Paul Roos op die dorp, wat deur Theo Espost, haar een broer, besit word. Ná blitsige beraadslaging val net die “all-girl Laurel & Hardy team” – die langeraat Ilse en Melissa, die kortetjie – vir die sampioene; die res kies die vye.

“Nee, o,” kreun Barbara die oomblik toe hulle die groen lig kry om te loer wat in die mandjie wag. “Wortels! Wortels gooi my altyd! en dan is dit nog pers wortels ook!” haar kaalkop-spanmaat, Mario, is min gepla: “Moenie worry oor die wortels nie, ék love mos weer ’n wortel, as jy weet wat ek bedoel!”

Saam met die wortels is persskil-patats, ’n ontbeende varknek van sowat 800 g, ’n bottel Laborie Alambic-brandewyn wat in 2010 aangewys is as beste brandewyn ter wêreld, en laastens ’n driehoek Simonsberg Simonzola-bloukaas.

“Vandag gaan ons ons dingesse sien met die varknek! Beste brandewyn ofte nie, hierdie bottel gaan leeg wees nog voor die kos gaar is,” weeklaag Barbara onderlangs terwyl Francois, nou aansienlik ernstiger in sy sjefsbaadjie, verduidelik die spanne mag enige kruie uit die kookskool se tuin gebruik (maar geen ekstra groente of vrugte nie). Knoffel en uie word as geurmiddels beskou, en hulle het toegang tot olie, botter, eiers en room.

12:00

“Oukei, mense, soos ek elke jaar vir die deelnemers aan die jongsjef-kompetisie sê: Just relax and let the ingredients speak to you! En as ek om eenuur sê ‘Stop!’, dan stop julle. Wat gaar is, is gaar, wat nie gaar is nie, is nie gaar nie. Op julle merke, gereed, kóók!”

Die “butch span”, soos Herman na homself en Marcell verwys, trek weg: Herman skil patats wat in ’n wavrag botter met heuning en kaneelstokkies ge-confit gaan word (dis Frans vir gaarmaak in botter by ’n lae temperatuur). “Hartaanval in ’n pan” noem hy dit. Op sy beurt maak Marcell knoffel skoon dat die skille trek. Die afval word in aparte herwinningshouers gegooi nadat Errieda vroeër laat blyk het green credentials kan moontlik in die spanne se guns tel.

In die Laurel&Hardy-hoek maak Melissa en haar bokspringende bokstert korte mette met die knoffel, maar dan slaan die noodlot die eerste keer toe, toe Ilse haar vinger raak sny terwyl sy met die sampioene doenig is.

Kort daarna laat Mario hul peperpot oopskiet, met gitswart korrels wat in de laaste pruttende pot, oor die stoof, die werkblad én die vloer land. ’n Kwartier later gee Laurel & Hardy se gastoevoer die gees. Herman vergeet weer die pan het pas uit die oond gekom en moet tien minute lank ’n ysbaksteen in sy verbrande hand vasklou, en nie lank daarna nie skree Francois, “Iets brand!” Dis Ilse en Melissa se saliesout wat hulle saam met hul bros patat-tjips wou voorsit.

12:20

“Toe maar, ons is anders as hulle,” sê Barbara nadat eers die meisies en toe die menere ’n stewige skeut brandewyn by hul varknek in die pan gooi wat vlamme dakwaarts laat beur en die fotograaf laat nader draf om dié flambojansie vas te lê. Dit word nou duidelik die ander spanne hou hul varknek heel en vrolik dit op met ’n vulsel voor dit oond toe gaan, terwyl Barbara en Mario hulle s’n in steaks gesny het en dit in melk kook–melk met heelwat peper, natuurlik . . .

“Ons is ánders as hulle. Én ons het ’n starter.” Sy loer in die oond waar die eier-en-roomvla van hul vy-en-bloukaastertjies in die bootvormbakkies begin stol.

12:40

“Nog 20 minute, dames en here!” brul Francois. Hy en Errieda loop tussen die spanne rond, vra vrae, loer in potte, slyp messe wat te stomp na Francois se sin lyk, kyk vir mekaar met gesigte wat g’n sprook sprak nie.

“Kan jy glo ons het 13 jaar gelede in ons radioprogram Huiskok Glanskok al begin met die konsep van ’n geheime mandjie,” sê Errieda. “Die omroeper het gesê wat die bestanddele in die mandjie is, en dan het ek en Francois elk net ’n minuut en ’n half gehad voor ons moes verduidelik wat ons daarmee sal doen. Dan kon die lesers inbel en besluit wie die wenner is.

“Die bedoeling met ’n geheime mandjie is nie om mense uit te vang nie, maar om kreatiwiteit te laat seëvier, om daai innerlike kind te laat uitkom. En kyk nou net wat het ons vandag hier: Ek is verstom deur die eindeloosheid van kreatiwiteit, die vermoë wat ons almal het om die verwagtinge te oortref.”

12:55

“Julle het 5 minute!” Maar pleks van die senuwees verder opjaag, lyk die kombuis soos iets wat ’n sug van verligting geslaak het. Niemand is agter skedule nie, almal is aan ’t opruim of borde regsit, terwyl hulle die laaste bak- of braaityd afwag.

13:00

Mario en Barbara verskyn eerste voor die beoordelaars. Hul broskors-vy-en-gorgonzola-tertjie laat Errieda jubel oor die skoonheid, aardsheid en belofte wat daarin opgesluit is, maar wanneer hulle begin proe, brom Francois oor die neutrale palet en die tertdop wat “soggy” is weens die vog van die vye en die feit dat die kors nie vooraf blind gebak is nie. Maar toe hulle 10 minute later weer proe, is die probleem opgelos: by kamertemperatuur is alles gestol en die smake kom mooi tot hul reg.

Errieda vind die varknek wat in melk gekook en met karamelpatats en geglasuurde heuningwortels bedien word, “aards en herfs, vertroostend en bekend”, en Francois murmureer die vleis kon sagter gewees het.

Ilse en Melissa is volgende. Hul gerolde varknek met ’n porcini-gorgonzola-en-brandewynvulsel word afgerond met ’n smeersel patatpuree met vanielje, geglasuurde heuningwortels, patat-tjips met ’n vars besending saliesout, en ’n sous wat hulle aanmekaargeslaan het met room, knoffel, port, brandewyn, salie, tiemie en van die ryk pansappe.

Die heilsame Mev. Huiskok sê sy sal dit met trots voorsit op ’n Sondagmiddag, hoewel sy jammer is die porcini word oordonder, terwyl Mnr. Glanskok met sy meer tegniese grille en geite meen “alles is heerlik geurig en die vleis sappig, maar elke element bly in sy eie boksie en sê nie saam ‘hoesit!’ op die bord nie”.

Maar soos in alle veldslae kon daar ook in die Salige Slag van Banhoekvallei net een wenner uit die stryd tree, en toe die babbelende beoordelaars stomgeslaan sit nadat Marcell en Herman hul heel varknek met ’n vulsel van gorgonzola en vy, confit-patats, brosgebraaide wortelskyfies en ’n afgekookte sous van pansappe met brandewyn, knoffel en uie voor hulle neersit – én ’n nagereg van toffievye met sopies brandewyn – toe wéét jy. Mnr. Glanskok oeloeleer: “Visuele kunswerk – wat smaak, kleur en tekstuur betref. Nie te swaar nie, maar sterk. Aards. ’n Simfonie op die vurk. Kos van die tyd. Kontemporêre Suid-Afrikaanse cuisine op sy beste.”

Mev. Huiskok, skoon oorweldig deur emosie: “Kontemporêr dog familiêr. So mooi om na te kyk. Ruimhartig. ’n Regte Tuin van Edenstorie met die Bybelse vy – onskuld aan die een kant, verleidelikheid aan die ander – ’n toffieappel vir grootmense.” Die soet doppie van die vy kraak onder die twee se tande. Jy kan ’n korrel meel hoor val, só stil is dit.

“Hierdie is ’n orgasm waiting for a place to happen,” sê Francois oplaas, nou met handpalms weerskante van sy wange, byna soos Edvard Munch se skildery “The Scream”, wat ek my altyd voorstel lyk soos een wat die stoof aan vergeet het.

“As dít die gehalte is van die mense wat uitgeval het by MasterChef SA, dan’s die land in vir ’n ding. Ou Donna Hay kan maar gaan slaap. Wil Kook, Kan Kook? Se voet! Verander die naam sommer nou: Wil kook, kan béslis kook.”

*MasterChef SA word Dinsdagaande om 19:30 op M-Net en M-Net HD uitgesaai vanaf Maart 2012

SARIE TV: kom loer agter die skerms op http://www.sarie.com/kos/kosstories/wil-kook-kan-kook-ons-speel-masterchef