sk1104peppermintwenner1
Resepte

1ste prys – peperment-yskaskoek wenner Annerien Vermeulen

Annerien Vermeulen het eerste prys gewen met haar peperment-yskaskoek

“Ek is ‘n gekwalifiseerde huishoudkundige. Nadat ek my onderwysgraad aan die PU vir CHO gekry het, het ek by ‘n paar skole en later by kolleges klas gegee, hoofsaaklik in kookkuns. Ek het ‘n maand gelede besluit om my eie onderneming te begin deur kookkursusse van die huis af aan te bied.

“Ek bak ook op bestelling en maak troukoeke of koeke vir ander geleenthede. Ek en ‘n vriendin is besig om ‘n kolwyntjie-bakkery aan die gang te kry, en my groot droom is om ‘n kookboek te skryf (waarmee ek al begin het). Toe ek hoor ek het SARIE KOS se wedstryd gewen, was ek in die wolke, want dit het vir my gewys ek het die regte besluit geneem. Ek bak al vandat ek kan onthou en dis net so ongelooflik lekker om erkenning te kry van ‘n tydskrif wat weet waaroor dit gaan. So drie jaar gelede het die noodlot my getref – ek is as tipe 1-diabeet gediagnoseer.

“Dit was nogal ‘n groot skok, aangesien ek van die oggend tot die aand resepte droom. Gelukkig het ek ‘n goeie ondersteuningstelsel en my ‘arme’ man en vriende moet nou heeltyd my konkoksies probeer. Al is ek ‘n diabeet, is die idees en kombinasies in my kop nog nie weg nie. Ek hou aan met eksperimenteer. Gelukkig werk dit goed uit, soos wat die peperment-tert bewys het!”

Peperment-yskaskoek

(12 – 15 porsies)

  • 2 ½ pakkies Tennis-koekies
  • 250 ml room
  • 200 g donkersjokolade met mentgeur
  • 2 blikkies gekookte kondensmelk
  • 500 ml room
  • 2 x Peppermint Crispsjokolades

Voer ‘n 28 cm-losboomkoekpan uit met bakpapier. Verhit die 250 ml room en smelt die donkersjokolade daarin. Verkoel in yskas. Wanneer sjokoladeroom goed koud is, klits tot styf. Klits die 500 ml room tot styf. Voeg die gekookte kondensmelk by en pols in voedselwerker tot gemeng. Wees versigtig om die mengsel nie te veel te klits nadat die gekookte kondensmelk bygevoeg is nie, want dit kan lug verloor. Rasper die Peppermint Crispsjokolades.
Wenk: Sit sjokolades in vrieskas voor jy dit rasper, dan rasper dit makliker. Voeg 3 eetlepels van kondensmelkroommengsel by die sjokoladeroommengsel om dit ‘n bietjie meer smeerbaar te maak. Pak ‘n laag beskuitjies onderin die koekpan. Sit ‘n kwart van die karamelmengsel bo-op en maak gelyk, gevolg deur ‘n derde van die sjokolademengsel. Strooi ongeveer ‘n eetlepel gerasperde sjokolade bo-op. Herhaal die lae en eindig met die karamel-roomlaag. Sprinkel die res van die gerasperde sjokolade bo-oor en versier
(sien wenk onder). Laat staan oornag of minstens 6 uur in die yskas sodat die koekies lekker sag kan word. Keer uit en sit voor.

  • Karen

    wat is die verskil tussen donkersjokolade met mentgeur en peppermint crisp sjokolade?