Resepte

2de plek wenner Ninor Courtnage se broodpoeding resep

Edna se broodpoeding

(6 porsies)

  • 8 snye bruinbrood
  • 75ml Nutella of ander sjokoladesmeer
  • 75 g pekanneute, gekap
  • 200 g donkersjokolade, in stukkies gebreek
  • 200 ml melk
  • 200 ml room
  • 80 g botter (nie margarien nie)
  • 3 jumbo-eiers
  • 145 ml suiker
  • 75 ml brandewyn (opsioneel)

Sny die broodkorsies af, smeer die snye met sjokoladesmeer en sprinkel neute oor. Sny in driehoeke. Plaas sjokolade, melk, room en botter in kastrol en verhit baie stadig en roer aanhoudend tot alles gesmelt is. Klits eiers, suiker en brandewyn (as jy dit gebruik) goed saam tot dik.

Roer die sjokolademengsel by. Smeer ’n oondvaste bak van sowat 22 x 25 cm. Gooi ⅓ van sjokolademengsel in die bak. Pak die helfte van die gesmeerde broodjies op die mengsel. Herhaal die lae. Gooi die laaste ⅓ van die sjokolade mengsel bo-oor en druk met agterkant van ’n lepel sodat alles toe is onder die sjokoladesous. Bedek met kleefplastiek en laat staan in yskas vir 24 uur.

Verhit oond tot 180°C en bak vir 30 – 35 minute tot ’n korsie aan die buitekant gevorm het en die binnekant nog klam is. Sit dadelik voor met ’n skeppie roomys of room.