Resepte

3de plek wenner Eugene Joubert se Sjokolade-fudgekoek met donkersjokolade-en-karamelversiersel

(1 koek met deusnee van 20 cm)

Koek

  • 420 g (750 ml) koekmeel
  • 300 g (325 ml) suiker
  • 200 g (250 ml) bruinsuiker
  • 65 g kakao
  • 7,5 ml koeksoda
  • 5 ml bakpoeier
  • 5 ml sout
  • 3 groot eiers
  • 315 ml karringmelk, geskud
  • 10 ml vanielje-ekstrak
  • 145 ml sonneblomolie
  • 315 ml varsgemaakte filterkoffie

Verhit die oond tot 170°C. Spuit twee 20 cm-koekpanne van minstens 7 cm diep met kleefwerende kossproei en voer uit met bakpapier. Sif die koekmeel, suiker, bruinsuiker, kakao, koeksoda, bakpoeier en sout saam. Klits die eiers, karringmelk, vanielje-ekstrak en sonneblomolie saam met ’n elektriese klitser. Voeg die droë bestanddele geleidelik by die eiermengsel en klits deurlopend goed. Maak seker dat al die droë bestanddele goed gemeng is. Voeg die koffie by die beslag en klits goed. Verdeel die beslag tussen die voorbereide panne en bak vir ongeveer 45 minute of tot ’n toetspen skoon uitkom. Plaas die panne op ’n draadrak vir 10 minute. Gebruik ’n mes om die koek versigtig van die rande van die pan los te maak en keer dan die koeke op draadrakke uit. Laat heeltemal afkoel.

Versiersel

  • 225 g donkersjokolade
  • 188 ml room
  • 100 g (125 ml) suiker
  • 15 ml gouestroop
  • 45 ml water
  • 300 g suiker
  • 55 g koekmeel
  • 15 g kakao
  • 500 ml melk
  • 225 g botter, baie sag
  • 5 ml vanielje-ekstrak

Breek die sjokolade in groot stukke en plaas in ’n hittebestande bak. Verhit die room oor matige hitte tot net onder kookpunt en hou warm. Plaas die 100 g suiker, gouestroop en water in ’n pan en roer oor lae hitte totdat die suiker opgelos het. Bring tot kookpunt oor hoë hitte sonder om die suiker te roer en kook tot die karamel goudbruin is. Voeg die warm room by die karamel en meng. Giet die karamel oor die sjokolade, laat staan vir 1 minuut en roer stadig totdat die sjokolade gesmelt is. Laat staan eenkant om af te koel. Meng die 300 g suiker, meel en kakao in ’n kastrol. Voeg die melk by en bring tot kookpunt oor matige hitte tot dit verdik en die meel uitgekook is. Roer aanhoudend sodat die mengsel nie aanbrand nie. Verwyder van hitte en giet in die bak van ’n elektriese klitser. Klits op hoë spoed tot heeltemal koud – roer af en toe met ’n plastiekspatel. Jy kan ’n klam kombuisvadoek om die bodem van die bak plaas om die mengsel vinniger te laat afkoel. Voeg die sagte botter geleidelik by die melkmengsel en klits totdat dit dik is. Voeg die vanielje-ekstrak en afgekoelde sjokolade by en klits goed tot dik en lig. Die versiersel kan verkoel word indien nodig. Meng dit weer goed met ’n plastiekspatel om dit glad te maak.

Versiering

Sny ’n dun lagie van die bo-kant van albei koeke af om dit gelyk te maak. Plaas ’n teelepel van die versiersel op ’n opdienbord, gevolg deur die eerste koeklaag (die versiersel sal die koek stewig op die bord hou). Sny 4 dun stroke bakpapier en druk dit rondom die koek, onder die bodem en op die opdienbord om te keer dat die bord vuil word wanneer jy die koek versier. Die bakpapier moet verwyder word nadat die koek versier is. Plaas ’n dik laag versiersel op die onderste koek en plaas die ander koek bo-op. Smeer ’n baie dun laag versiersel oor die hele koek en plaas dit in die yskas vir 15 minute. Hierdie “krummellaag” sal enige los krummels in die uiteindelike versiersel keer. Gebruik orige versiersel om die kante en bokant van die koek te versier. Sjokolade-balletjies (soos Whispers) kan op die rand van die koek geplaas word, soos syfers op ’n horlosie. Die koek kan by kamertemperatuur in ’n lugdigte houer staan.

  • fanie

    koel

  • Christa Nolte

    Hierdie koek is sonde so heerlik en dekadent is dit!! Net wat die dokter voor geskryf het na `n lang moeilike week!

  • Delaine

    ek het die koek gisteraand gemaak dis baie harde werk en baie moeite. Die "versiersuiker" het meer soos ‘n fudge sous uitgekom, nog steeds baie lekker, maar nou nie epic nie. Ek het toe die koek in stukke gesny en die "versiersuiker" net oor die koek gegooi soos sous. Ek sal volgende keer minder melk gebruik dan sal die versiersuiker nie so loperig wees nie, dan sal ek probeer om die koek met dit te versier.

  • Elouise

    waarmee kan ek die koffie vervang vir verjaarsdag koek?

  • Elouise

    alternatief vir koffie?