Resepte

3de plek wenner Marna Rossouw se souttert

KORS

  • 240 g (500 ml) koekmeel, gesif
  • 5 ml sout
  • 150 g koue botter, gerasper
  • 50 ml yswater 

Sif koekmeel en sout saam. Vryf die botter met jou vingers by meel in tot dit soos broodkrummels lyk. Voeg yswater by en bewerk tot ’n stywe deeg. Vorm ’n deegbal, sit in plastieksak en plaas in yskas vir minstens ’n halfuur. Haal uit yskas en rol met ’n koekroller op ’n meelbedekte oppervlak uit tot sowat 5 mm dik. Smeer ’n oondvaste glasbak van sowat  26 cm in deursnee en 5 cm diep met botter of margarien of spuit met kleefwerende kossproei. Voer die bereide bak met die gerolde deeg uit. Knip die kante gelyk, maar laat van die deeg oor die kante hang (+- 3 cm). Dit sal keer dat die kors te klein krimp. Prik die deeg met ’n vurk. Plaas terug in yskas vir nog ’n halfuur. Verhit intussen oond tot 180 °C. Bak in warm oond vir 10 minute tot goudbruin. Haal uit oond. 

SOUTTERTVULSEL

  • 15 ml botter
  • 15 ml olyfolie
  • 2 middelslag-uie, fyngekap
  • 1 standaardgroot chorizo-wors, in blokkies gesny
  • 2 eiers
  • 2 eiergele
  • 250 ml vars room.
  • 300 g ricotta-kaas
  • sout en peper na smaak 
  • 250 ml parmesaankaas, varsgerasper
  • 80 g basiliepesto
  • 100 g parma-ham, in blokkies gesny 

Verhit die botter en die olyfolie in pan oor matige hitte. Soteer uie in olie en bottermengsel tot sag en karamelagtig. Voeg die gesnyde chorizo by die    uiemengsel en braai oor matige hitte vir nog 5 minute. Haal van stoof af. Klits eiers en die eiergele goed saam. Voeg die room, chorizo-mengsel, ricotta, sout en peper en helfte van die gerasperde parmesaan by die eiermengsel en roer goed.     

Voorverhit die oond tot 180 °C. Smeer pesto oor die gebakte kors en sprinkel blokkies ham oor die laag pesto. Giet nou die eiermengsel versigtig oor die ham. Sprinkel res van gerasperde parmesaan oor. Bak in warm oond vir 30 minute. Laat effe afkoel en sit voor. Dis heerlik saam met ’n vars tamatie-en-basiliekruidslaai.