Resepte

3de plek wenner Wilmie Roos se broodpoeding resep

Meringue-broodpoeding

(8 porsies)

  • 10 snye witbrood
  • 120 g botter
  • 4 e (60 ml) appelliefiekonfyt
  • 6 groot eiers, geskei (eierwitte gebruik by meringue)
  • 150 g klam bruinsuiker
  • 1 t (5 ml) vanieljegeursel
  • 1 t (5 ml) gemengde speserye
  • ’n kwart t (1 ml) fyn kaneel
  • ’n kwart t (1 ml) fyn neutmuskaat
  • 1 t (5 ml) gerasperde lemoenskil
  • ’n halwe k (125 ml) rosyne
  • 500 ml melk
  • 250 ml room

 Meringue

  • 6 eierwitte
  • 300 g strooisuiker
  • knippie sout

Verhit oond tot 180°C.

Smeer ’n oondvaste bak van 25 x 20 x 5 cm met margarien of botter, of spuit met kleefwerende kossproei. Sny korsies van brood af en smeer albei kante van snye brood met botter en appelliefiekonfyt. Klits eiergele, bruinsuiker, vanielje, gemengde speserye, kaneel en neutmuskaat goed saam tot romerig.

Voeg gerasperde lemoenskil en rosyne by die mengsel en roer goed. Verhit melk en room in mikrogolfoond tot baie warm, net voor kookpunt. Roer melkmengsel stadig by eiermengsel in. Roer goed. Pak die eerste laag brood in bak. Gooi van die mengsel oor brood. Pak ’n tweede laag brood en gooi weer mengsel oor. Hou aan met lae tot al die bestanddele in bak is. Laat staan vir tien minute en plaas in oond. Bak vir 25 minute.

Meringue

Klits eierwitte effens styf. Strooi suiker en knippie sout oor en klits tot styf. Smeer oor gebak sodra uit oond kom. Bak vir nog 20 minute teen 160°C. Sit dadelik voor.