sk1003seksie_voorblaaie01
Resepte

Net 5 minute! Sjokoladekoek in die mikrogolfoond

Is jy nou lus vir sjokoladekoek, maar jy het nie tyd om een te bak nie? Hier is die oplossing – ’n koek in net 5 minute in jou mikrogolfoond. Dis maklik, dis lekker en jy hoef nie lank te wag nie!

1 – 2 porsies

• 60 ml bruismeel
• 60 ml suiker
• 30 ml kakao
• knippie sout
• 1 eier
• 45 ml melk
• 45 ml sonneblomolie

Smeer of spuit ’n koffiebeker met ’n volume van 400 ml goed. Gooi meel, suiker, kakao en sout daarin. Meng met vurk. Voeg eier by en meng goed. Voeg melk en olie by en meng weer goed.

Sit beker vir 3 minute in mikrogolfoond teen 100% krag. Die koek sal taamlik hoog rys – dis reg so. Laat staan ’n paar minute voordat jy dit uitkeer. Sit voor met geklopte room en vars rooiaalbessies (redcurrants). Dis ook lekker warm saam met roomys.