Resepte

Amandeltert

(1 tert)

  • 500 ml (280 g) koekmeel
  • 155 g botter
  • 30 ml strooisuiker
  • 200 g botter
  • 5 ml vanieljegeursel
  • 4 eiers
  • 200 g gemaalde amandels
  • 200 g versiersuiker
  • 40 g koekmeel
  • 1 blik (425 g) baba-appels, vloeistof afgegooi
  • mascarpone om saam met die tert voor te sit

Verhit oond tot 160C. Plaas meel, 155 g botter en suiker in ‘n voedselverwerker. Verwerk tot die tekstuur van growwe broodkrummels. Gooi water by en meng tot deeg bymekaarkom. Draai toe in kleefplastiek en verkoel vir 20 minute. Rol koue deeg tot 3 mm dik op ‘n meelbestrooide oppervlak uit. Voer ‘n tertpan van 35 x 11 cm daarmee uit. Laat rus in yskas vir 20 minute. Prik die koue deeg met ‘n vurk en bak blind (sien wenk) vir 10 minute of tot dit begin verkleur.Verwyder uit oond en laat afkoel. Klits 200 g botter en vanielje tot lig en romerig.Voeg eiers een vir een by en klits goed ná elke byvoeging.Vou amandels, suiker en meel by die bottermengsel in. Gooi beslag in die gebakte kors en rangskik baba-appels boop. Plaas terug in die oond en bak vir 30 minute of tot goudbruin en gaar. Sit voor met mascarpone.

Wenk: As jy iets blind bak, voer jy die kors met bakpapier uit en gooi rou bone of rys bo-op. Dit keer dat die kors rys terwyl dit bak. Jy kan die bone bêre en weer hiervoor gebruik.

  • Elna Butler

    Goeie dag
    Ek wil weet of die 200g botter wat deel van die beslag is, korrek is. Ek het die resep probeer, maar dit was baie slap. Dit voel vir my of die verhouding van die vloeistof deel teenoor die hoeveelheid meel nie reg is nie.
    Kan u asseblief vir my terugvoer gee.

    Baie dankie