sr1207_hoofkos_6_
Resepte

Appel-en-framboos-panpastei

(6 porsies)

  • 8 groot appels, geskil en ontklok
  • 200 g bevrore frambose
  • sap van 1 suurlemoen
  • 110 g (130 ml) strooisuiker
  • 5 ml fyn kaneel
  • 5 ml vanieljegeursel
  • 30 ml mielieblom
  • 15 ml water
  • 1 x 400 g-rol bevrore blaardeeg, ontdooi
  • 1 eier, liggies geklits
  • 45 ml witsuiker

Verhit oond tot 200 °C.

Plaas appels, frambose, suurlemoensap, strooisuiker, kaneel en vanielje in ’n groot mengbak. Skud tot goed gemeng. Gooi mengsel in oondvaste 30 x 30 cm-pan. Maak toe met foelie en bak vir 10 – 15 minute of tot appels sag is. Haal uit oond.

Meng mielieblom en water. Voeg by appelmengsel in pan en roer goed deur. Sny deeg in ’n sirkel 2 cm groter as die pan. Plaas bo-op en vou kante netjies na binne. Verf deeg met eier en sprinkel suiker oor. Bak vir 20 – 25 minute of tot goudbruin en gaar.

Sit voor met warm vla of dik room.

Tuisgemaakte eiervla

Dis maklik om self eiervla te maak en dis boonop baie lekkerder as gekoopte vla. Bring 400 ml melk saam met 10 ml vanieljegeursel tot net onder kookpunt. Klits in ’n aparte bak 5 eiergele en 60 ml strooisuiker saam tot lig en romerig. Voeg warm melk stadig by eiergeelmengsel terwyl jy klits. Gooi mengsel terug in pot en roer oor lae hitte met ’n houtlepel tot mengsel die agterkant van die lepel bedek. Dis belangrik om nie die mengsel te laat kook nie, anders gaan dit skif. Gooi gaar eiervla deur ’n sif en laat afkoel.

Herman se wenk

Jy kan die pastei ook in aparte oondvaste bakkies gaarmaak.