sr1207_hoofkos_4_
Resepte

Appelpastei met krummelkors

(8 – 10 porsies)

  • 1 x 400 g-rol bevrore broskorsdeeg, ontdooi
  • 2 eiers
  • 250 ml suurroom
  • 150 g (190 ml) suiker
  • 30 ml koekmeel
  • 5 ml vanieljegeursel
  • 2 ml sout
  • 2½ koppie (2 – 3) appels, ontklok en fyngekap
  • sap en skil van 1 suurlemoen

Krummelkors

  • 125 ml suiker
  • 80 ml meel
  • 5 ml kaneel
  • 60 ml botter, grofgerasper

Verhit oond tot 180 °C.

Rol deeg op meelbestrooide oppervlak uit. Gebruik koekroller en rol deeg tot sowat 3 mm dik uit. Voer 30 cm-losboom-koekpan wat met kleefwerende kossproei gespuit is met deeg uit. Sit in yskas terwyl jy vulsel maak.

Plaas eiers, room, suiker, meel, vanielje, sout en appels in voedselverwerker. Stel op pols-aksie en verwerk tot goed gemeng,maar appels nie heeltemal fyn nie.Voeg sap en skil van suurlemoen by en meng goed deur. Skep in koue kors en sit terug in yskas.

Krummelkors

Gooi al die bestanddele vir krummelkors in ’n middelslagmengbak en meng goed tot die tekstuur van growwe sand. Versprei eweredig op vulsel. Bak vir 30 – 35 minute of tot die kors goudbruin en die vulsel gestol is. Laat effens afkoel en haal uit pan.

Sit warm voor met suurroom.