Resepte

Appeltert

Deeg

Jy benodig

  • 190 g (210 ml) ongesoute botter
  • 325 g (580 ml) koekmeel
  • knippie sout
  • 36 g (45 ml) suiker
  • 2 eiergele, geklits met 4 – 5 eetlepels koue water

Verhit jou oond tot 180 °C. Plaas die botter en meel in jou voedselverwerker. Meng tot dit soos broodkrummels lyk. Voeg die sout en suiker by en meng. Voeg die eier-en-water
by en meng tot ’n gladde deeg. Maak dit toe met kleefplastiek en los in jou yskas vir sowat 30 minute. Rol die deeg dun uit op ’n meelbestrooide oppervlak om in ’n diep 35 x 25 cm gesmeerde bakplaat te pas. Plaas ’n groot stuk bakpapier bo-op die deeg in die bakplaat. Vul dit met droë bone en plaas in die warm oond. Bak vir 20 minute. Dis mos blind bak, en onthou dat jy nie die bone hierná kan kook nie – hou hulle vir wanneer jy weer deeg moet blind bak.

Vulsel

Jy benodig

  • 12 rooi appels, ontklok en in ringe gesny
  • 80 g (100 ml) strooisuiker
  • 10 ml fyn kaneel

Meng alles saam. Wanneer jou deeg afgekoel het, rangskik jy die appels bo-op. Bak die tert nou vir 20 minute. Maak solank jou vla.

Vla

Jy benodig

  • 1 eier
  • 70 g (80 ml) strooisuiker
  • 35 g (60 ml) koekmeel
  • 250 ml room
  • 60 ml brandewyn (opsioneel)
  • 25 g (30 ml) strooisuiker

Klits die eier en strooisuiker saam met ’n elektriese menger tot lig en romerig. Voeg die meel by en klits tot glad. Voeg die room en brandewyn by en klits weer tot glad. Haal die tert ná die 20 minute uit die oond en gooi die vla versigtig oor. Plaas terug in die oond vir 10 minute. Jy gaan wéér die oonddeur oopmaak, want nou moet jy die 25 g strooisuiker oor die appels sprinkel. Bak vir nog 15 – 20 minute. Om die tert bo-op mooi bruin te kry kan jy dit rooster onder die rooster-element in jou oond – hou net dop dat dit nie brand nie. Sit voor saam met styfgeklopte room of roomys.


Om te drink

Neethlingshof Gewürztraminer