Resepte

Baguettes

(8 baguettes)

  • 660 ml louwarm water
  • 1 x 10 g-sakkie kitsgis
  • 10 g (10 ml) sout
  • 20 ml heuning
  • 30 ml olyfolie
  • 1 kg (1 785 ml) koekmeel

Plaas water, gis, sout, heuning en olyfolie in menger se mengbak. Gooi ⅔ van meel by en meng met deeghaak teen matige spoed. Gooi laaste ⅓ van meel geleidelik by en meng tot stywe, kniebare deeg.
Verhoog mengerspoed en knie vir 8 – 10 minute of tot ’n elastiese, gladde mengsel.

Plaas deeg in groot bak wat met sonneblomolie gesmeer is. Bedek met kleefplastiek en laat rys op warm plek vir 30 – 40 minute of tot dubbel die volume. Knie af.Herhaal proses drie keer.

Keer deeg op meelbestrooide oppervlak uit en sny in 200 g-stukke. Dis belangrik om die deeg te weeg sodat al die brode ewe groot is.

Druk deeg effens plat en rol dan styf op, soos wat jy met ’n rolkoek sou doen.

Laat staan vir 10 minute en vorm die baguette só

 Druk rolletjie plat.

Stap 1

Druk rolletjie effens plat. Vou boonste 2 hoeke van deeg na middel dat dit lyk
soos ’n huis se dak.

 Druk plat met palm

Stap 2

Gebruik palm van hand en druk deeg weer plat. Vou huisdakkie dan oor in 1 cm breë vou. Doen dit 2 maal. Begin om deeg se bo-punt oor te vou na onder en dan die soom met jou hand- palm stewig vas te druk. Hou so aan tot jy die hele oorblywende stuk deeg gerol-vou het.
Verhit oond tot 220 °C.

 Rol die wors met palms

Stap 3

Rol die wors met jou palms tot sowat 50 cm lank en rol punte van deeg op om skerp punte te vorm.

 Plaas deeg se soom onder

Stap 4

Plaas met deeg se soom na onder op bakplaat wat met kleefwerende kossproei gespuit is. Sif klein bietjie koekmeel oor
baguettes. Laat rys op warm plek vir 25 – 30 minute of tot dubbel die volume.
Sny 5 kepe met ’n skerp mes of outydse
skeermeslemmetjie (Minora Blade) bo-op
uitgerysde brood. Bak vir 15 – 20 minute of tot goudbruin. Laat afkoel.

  • Theo Kleynhans

    Hey Herman
    Ilza Roggeband het die resep op facebook geplaas naas ‘m foto van haar eie brood. Baie dankie vir die lekker resep. Ek het nou ook die brood gebak met groot sukses.