sk1106burger_7_
Resepte

Bak jou eie broodrolletjies

(6 – 8 BROODROLLETJIES)

  • 1 x 10 g-sakkie kitsgis
  • 120 ml louwarm melk
  • 50 g strooisuiker
  • 10 g sout
  • 300 g (535 ml) koekmeel plus ekstra vir uitrol
  • 3 eiers
  • 100 g botter
  • 100 g sesamsaad

Wenk: Jy kan die wit meel met bruinbroodmeel vervang as jy dit meer veselryk wil maak.

  1. Plaas die gis, melk, suiker, sout, meel en 2 eiers saam in ’n elektriese menger. Klits op hoë spoed met jou K-spaan totdat die hele mengsel van die bak se rand af wegtrek en in een groot bal om die spaan kleef. Dit neem sowat 5 – 8 minute.
  2. Gebruik ’n skerp mes om die botter in klein blokkies te sny en voeg geleidelik by deeg terwyl die menger loop. Klits op mediumspoed tot al die botter ingemeng is. Plaas mengsel in ’n skoon mengbak en laat dit op ’n warm plek rys tot dubbel in volume – sowat 30 – 40 minute.
  3. Gebruik ’n skêr en sny bolle deeg so groot soos klein appels van die mengsel af. (As jy ’n skaal het, kan jy die deeg in porsies van 130 g weeg.) Gebruik jou handpalm en rol balle op ’n oppervlak wat met ’n dun lagie meel besprinkel is.
  4. Verhit jou oond tot 180 ºC. Plaas die bolletjies op ’n bakplaat wat met kleefwerende kossproei bespuit is en laat op ’n warm plek rys tot verdubbel. Dit neem sowat 30 minute. Breek 1 eier en klits dit liggies. Verf die eiermengsel oor die bolletjies en sprinkel sesamsaad bo-oor. Bak vir 20 – 25minute of tot goudbruin en gaar. Laat koel af op draadrak.

ONTHOU
- MOENIE die melk te warm maak nie: Dit sal die gis doodmaak en veroorsaak dat jou brood nie rys nie.
- DRUK jou vinger in die melk om te toets of dit reg is. Dit moet min of meer liggaamstemperatuur wees.
- PROBEER om so ver moontlik bestanddele af te weeg eerder as om met maatkoppies te meet: ’n Skaal   is meer akkuraat.