Resepte

Baklava

  • 200 g pekanneute
  • 100 g gepelde amandels
  • 100 g okkerneute
  • 100 g pistasieneute
  • 50 ml heuning
  • 50 ml strooisuiker
  • 10 ml fyn kaneel
  • 6 velle filodeeg
  • 30 – 40 ml botter, gesmelt

Stroop

  • 450 g strooisuiker
  • 30 ml heuning
  • 300 ml water
  • 30 ml rooswater

Begin deur die stroop te maak. Meng al die bestanddele daarvoor in ’n kastrol en bring dit tot kookpunt terwyl jy voortdurend roer (jy roer sodat die suiker kan smelt). Verlaag die hitte en laat die stroop vir 10 minute kook. Laat afkoel. Verhit die oond tot 160 °C. Kap al die neute grof in jou voedselverwerker. Meng die gekapte neute met die heuning, strooisuiker en kaneel. Smeer ’n oondbak van so 50 cm x 30 cm met
van die gesmelte botter. Begin lae maak met die filodeeg. Wanneer jy filodeeg koop, is dit altyd gevries, so jy moet seker maak dit is heeltemal ontdooi. Filodeeg is papierdun, hou dus die deeg heeltyd toe met ’n klam lap. Plaas een vel deeg in die bak en smeer met die gesmelte botter. (Die grootte van die bak wat ek gebruik het, is kleiner as een vel filodeeg. Jy kan die eerste vel dubbel vou.) Verf weer die filodeeg met gesmelte botter. Herhaal die proses tot jy drie velle gebruik het, al drie dubbel gevou. Gooi die neutmengsel in die bak en druk dit plat. Herhaal dieselfde proses met die ander drie filodeeg-velle bo-op die neutmengsel. Smeer die
laaste laag met gesmelte botter en sny die baklava in diamant-vorms- die grootte wat jy verkies. Plaas in die warm oond en bak vir 20 minute. Verhoog die temperatuur tot 200 °C en bak verder vir 15 minute tot mooi
bruin en bros. Haal uit die oond en gooi die stroop dadelik oor. Laat heeltemal afkoel voor jy dit uit die bak haal. Daar sal oortollige stroop in die bak wees, wat jy oor die baklava kan gooi wanneer jy dit uitgehaal het.