Resepte

Barbara se Cassoulet

  • 700 g haricotboontjies
  • 900 g ‘pork belly strips’
  • 4 groot eendborsies, in 3 porsies gesny
  • 60 ml olyfolie
  • 2 uie, fyn gekap
  • 6 huisies knoffel, fyngedruk
  • 2 lourierblare
  • 4 heel naeltjies
  • 60 ml tamatie-puree
  • 8 varkworsies
  • 4 tamaties (probeer Rosa- oftewel konfyt-tamaties, die Italiaanse soort)
  • 100 g droë broodkrummels
  • sout en vars gemaalde swartpeper na smaak

Week die bone oornag in koue water (hou dit bedek). Dreineer die bone en bedek weer met koue water. Bring tot kookpunt en kook oor hoë hitte vir 10 minute. Dreineer en laat eenkant staan. Sny die varkvleis in groterige stukke. Sny die eendborsies in 3 stukke. Verhit die helfte van die olyfolie en braai die varkvleis tot bruin. Plaas die bone, uie, knoffel, lourierblare, naeltjies en tamatiepuree in ’n dikboomkastrol. Voeg die varkvleis by en bedek met koue water. Bring tot kookpunt, verlaag die hitte tot die laagste op jou plaat en kook oor stadige hitte vir 1½ uur tot die bone sag is. Voorverhit die oond tot 180 °C. Verhit die res van die olyfolie, braai die eendborsies tot bruin en dreineer op kombuispapier. Braai die varkworsies tot bruin. Sny die worsies in kleiner stukke. Plaas die tamaties in kookwater vir sowat 1 minuut. Sit in koue water en verwyder die skille. Sny in kwarte. Plaas die bonemengsel in ‘n oondbak en voeg die varkworsies en eendborsies by saam met die tamaties, sout en peper na smaak. Sprinkel die broodkrummels oor en druk plat met jou hand. Bak in warm oond teen 180 °C vir 45 minute tot ’n uur.