Resepte

Barbara se seekospaella-pot

  • olyfolie
  • 1 kg koningklip-filette, in groot blokke gesny
  • 3 rooi soetrissies, in blokkies gesny
  • 400 g steurgarnale
  • 6 kreefsterte (kook die kreefsterte vir 10 minute in kookwater, laat afkoel en halveer)
  • 1 groot ui, fyngekap
  • 500 g witrys
  • 5 ml saffraan (as jy nie saffraan kan kry nie, gebruik 10 ml borrie)
  • 250 g bevrore ertjies
  • 4 lourierblare
  • 1,5 liter hoenderaftreksel
  • sap van 1 suurlemoen
  • sout en vars gemaalde swartpeper na smaak.

Verhit ’n bietjie olyfolie in ’n groot kastrol en braai die koningklip-filette vir so 2 minute. Voeg die soetrissies, ui en lourierblare by. Braai vir so 3 minute tot die ui deurskynend is. Voeg die rys, saffraantakkies en so ’n soplepel van die hoenderaftreksel by. Geur met sout en vars gemaalde swartpeper. Roer goed dat die rys bedek word. Voeg die aftreksel bietjie vir bietjie by tot die rys amper gaar is. Nou voeg jy die steurgarnale, kreefsterte en ertjies by. Laat vir so 10 minute kook en druk dan die sap van 1 suurlemoen oor. Dien op in lekker groot sopborde.