Resepte

Beesstert in rooiwyn

(6 porsies)

  • 2 kg beesstert
  • sowat 100 ml meel
  • sowat 100 ml olyfolie
  • 2 groot wortels, in blokkies gesny
  • 2 selderystokke, in skyfies gesny
  • 6 klein piekels (pickled onions), gehalveer
  • 2 knoffelhuisies, fyngedruk
  • 3 lourierblare
  • 500 ml rooiwyn
  • 600 ml beesvleis-consommé (helder sop) óf beesvleis-aftreksel
  • 5 ml gemengde droë kruie
  • sout en varsgemaalde swartpeper na smaak

Verhit jou oond tot 160 °C. Rol die beesstert-stukke in die meel. Skud die oortollige meel af. Verhit die olyfolie in ’n swaarboomkastrol. Braai die beesstert tot bruin – jy sal nie ál die stukke op een slag kan braai nie. Hou die vleis eenkant. Braai dan die wortels, seldery, piekels en knoffel in dieselfde kastrol vir sowat 10 minute. Jy kan nóg olyfolie bygooi indien nodig. Plaas die beesstert terug in die kastrol – bo-op die groente – en voeg die lourierblare, rooiwyn, consommé of beesvleis-aftreksel en gemengde kruie by. Geur met sout en varsgemaalde swartpeper. Maak die kastrol toe en plaas in die warm oond. Laat die beesstert rustig kook vir minstens 3 tot 4 uur lank. Kyk nou en dan, en as daar vet bo-op dryf, skep dit af.

Wenk
As die sous te veel is, haal die deksel af en laat dit oop kook in die oond. Jy kan ook die gereg oornag in die oond plaas, maar verhit die oond net tot 120 °C.