sk07sjoksjef02
Resepte

Berlyners met Lindtsjokoladevulsel

(30-35 balle, jy’t bakvernuf nodig!)

  • 290 ml louwarm melk
  • 50 g vars gis
  • 35 g suiker
  • 120 g eiergele (weeg eiergele af)
  • 10 g sout
  • 670 g koekmeelblom
  • 75 g sagte botter
  • 750 ml sonneblomolie vir diepbraai
  • strooisuiker om die balle in te rol

Plaas die melk, gis en suiker in ‘n mengbak. Meng die eiergele en sout in ‘n aparte mengbak. Voeg die meel by die melkmengsel en roer die eiergele en botter by. Knie die deeg totdat dit ferm, maar sag is (voeg ekstra meel by indien nodig). Laat die deeg vir sowat 30 minute by kamertemperatuur rys. Vorm die deeg in balletjies en laat weer rys totdat hulle soos malvalekkers voel. Verhit die olie in ‘n diep kastrol. Toets met ‘n stukkie brood om te sien of die olie warm is: As die brood stadig bruin braai, is die olie reg. Bak die deegballetjies in warm olie tot goudbruin. Dreineer op kombuispapier en rol in die strooisuiker. Hou eenkant.

Sjokoladevulsel

  • 290 ml room
  • 300 g melksjokolade (Lindt Excellence Extra Creamy)

Verhit die room tot kookpunt. Kap die sjokolade fyn en sit in ‘n mengbak. Gooi die warm room bo-oor en roer tot glad. Laat die vulsel afkoel tot ferm en skep in ‘n spuitsak. Maak nou ‘n klein gaatjie aan die kant van elke Berlyner en spuit die vulsel binne-in. Sit voor saam met koffie.