Resepte

Beste pizza nóg

Deeg

(genoeg vir 2 groot pizzas)

  • 250 g meel
  • 250 g semolina
  • 2 x 10 g kits-suurdeeg
  • 2 ml sout
  • ongeveer 300 ml louwarm water

Meng die meel en semolina saam in ’n groot mengbak. Voeg die suurdeeg en sout by. Voeg die louwarm water by, maar nie alles op een slag nie. Maak aan tot ’n lekker stywe deeg. Gooi meel op jou werkoppervlak en knie die deeg vir minstens 10 minute tot glad en elasties. Plaas die deeg terug in ’n bak en smeer ’n bietjie olyfolie oor. Maak met kleefplastiek toe en laat staan op ’n warm plek tot die deeg tot dubbel die grootte gerys het, voor jy dit afknie. Smeer ’n groot bakplaat met ’n bietjie olyfolie en rol die deeg in die gewenste vorm. Ek hou van ’n ovaalvorm – dit laat my aan Rome dink!

Jy benodig

(vir 2 groot ovaal pizzas)

  • 250 ml tamatiesous (halveer die 500 ml-resep) (sien verwante artikels)
  • 500 g gerasperde mozzarella-kaas
  • ’n hand vol vars origanum-blare
  • ’n bietjie olyfolie

Wat om bo-op te sit

My gunstelinge is (soos op die foto):

  • salami
  • geblikte artisjokke
  • ontpitte swart olywe (die beste is calamata)
  • kappertjiesaad

Smeer die tamatiesous bo-op die pizza-basis. Sprinkel die gerasperde mozzarella bo-oor. Sit die bestanddele van jou keuse bo-op en sprinkel ’n klein bietjie olyfolie oor. Plaas vir ongeveer 15 – 20 minute terug op die heel onderste rak in die warm oond teen 200°C.