frankryk
Resepte

Bon appétit!

As daar ’n land op aarde is wat sinoniem is met begeesterde kos, dan is dit sonder twyfel Frankryk. Sy inwoners het onbeskaamd geregte van Italië en ander Europese lande oorgeneem, dit verryk en met flair eie aan hul aard gemaak.

Van die kruie-sonstreek Provence kom olywe en olyfolie, knoffel, gevulde groente en kruiemengsels wat vir niks skrik nie. Suidelike Italië spoel hier oor en sonryp-tamatie-pizza word ’n terterige pissaladière. Die landstreek strek wyd – so ver as Marseilles, waar die unieke bouillabaisse (vissop) en aioli (amperse bredie met knoffel-mayonnaise) voorgesit word. En daar’s baie soortgelyke geregte: bouillinade in Roussillon, cotriade in Bretagne en chaudrée in Charente. Laasgenoemde is die inspirasie vir al die Amerikaanse chowders.

Normandiese afval is ’n elegante, roomryke gereg wat met appels gestowe word en deurtrek is met calvados – appelbrandewyn. Die streek is ook die hartland van camembert. Van kaas gepraat: Frankryk het meer verskillende kase as wat daar dae in ’n jaar is. En waar kaas is, gedy wyn. Elke streek het sy eie kosse en Parys spog met meer gesterde eetplekke as enige ander stad op aarde. En die ongelooflikste straatmarkte. Boulangerie, pâtisserie en charcuterie kraai hier koning. Die stad van die Eiffeltoring en van lig rys soos ’n wafferse soufflé bo alles uit. – PETER VELDSMAN

Spyskaart

6 porsies

Voorgereg

Gruyère-kaassoufflé

Hoofgereg

Eendborsies met port-rooiwynen- kersiesous

Kaasbord

Nagereg

Crème brûlée