Resepte

Bone-kasserol

Vegetaries
8 porsies

  • 250 g droë klein witbone
  • 250 g droë rooi gespikkelde bone
  • 2 eetlepels botter
  • 6 wortels, in blokkies gesny
  • 2 selderystokke, gesny
  • 2 uie, fyngekap
  • 4 knoffelhuisies, fyngekap
  • 2 blikkies gekapte tamaties
  • 2 lourierblare
  • 500 ml rooiwyn (probeer Chateau Libertas)
  • 500 ml groente-aftreksel
  • sout en vars gemaalde swartpeper na smaak
  • Franse brood, gesny

Week die bone oornag in koue water (jy kan die bone saam in ’n bak gooi). As jy vergeet om dit te doen (ek kom dit gereeld oor!), sit al die bone in ’n kastrol met koue water. Bring tot kookpunt. Haal van hitte af en laat staan vir sowat 2 uur. Dreineer. Smelt botter in ’n groot kasserol. Braai die wortels, uie, seldery en knoffel saam tot sag en deursigtig. Voeg bone by en meng goed. Voeg res van die bestanddele, behalwe die brood, by. Meng goed en laat kook oor ’n stadige hitte vir 2-3 uur tot die bone sag is. Gooi nog water by as die vloeistof te min raak. Daar moet ’n lekker sous wees. Rooster die brood net voordat jy die gereg voorsit, en plaas soos ’n kors op die bone. Die brood sal van die sous absorbeer.

Om te drink
Vul dié vegetariese gereg aan met ‘n heerlike cabernet sauvignon, soos die Brampton van Rustenberg of met Kanonkop, as jy wil uithaal.