FOTO Michael le Grange

Resepte

Broshoender-hamburgers

Maak soos die Amerikaners en braai hoender bros met ’n karringmelk-krummelkors. Dis heerlik op hamburgers.

genoeg vir 4

• 12 ontbeende hoenderdye
• 45 ml gerookte paprika
• 250 ml karringmelk
• 2 knoffelhuisies, fyngekap
• sout en varsgemaalde swartpeper
• 200 g droë broodkrummels
• 70 g (125 ml) koekmeel
• 2 eiers, geklits
• sonneblomolie vir diepbraai
• 300 g gesnipperde kool
• 1 x 400 g-houer mayonnaise
• 4 broodrolletjies, gehalveer

Plaas hoender in groot bak. Meng paprika, karringmelk en knoffel. Gooi oor hoenderstukke en maak seker dis rondom bedek. Geur goed met sout en peper. Haal hoender uit mengsel en krap die meeste van die karringmelk af. Plaas broodkrummels en koekmeel in groot plastieksak. Doop hoenderstukke in geklitste eier en gooi in sak met krummels. Skud sak rond tot al die stukke goed bedek is met die krummels. Verhit olie vir diepbraai tot medium-warm in groot pot. Braai hoender 10–12 minute of tot goudbruin en bros. Dreineer en hou eenkant. Meng kool en ⅔ van mayonnaise. Geur met sout en peper. Smeer oorblywende mayonnaise op broodrolletjies. Verdeel koolslaai tussen rolletjies se onderste helftes. Skep hoender bo-op en bedek met boonste helftes. Sit warm voor.