sr0905vetkoek_1_
Resepte

Cheddarkaas-en-biltong-vetkoek

(sowat 8 vetkoeke)

Jy benodig

  • 250 g (445 ml) witbroodmeel
  • 250 g (445 ml) koekmeel
  • 10 ml sout
  • 1 x 10 g kitssuurdeeg
  • 15 ml suiker 
  • 315 ml warm water 
  • sowat 600 ml sonneblomolie 
  • sowat 240 g cheddarkaas, gerasper 
  • sowat 180 g gesnyde beesbiltong

Meng witbroodmeel, koekmeel, sout en suurdeeg. Kombineer suiker en warm water en voeg by die meel. Meng goed. Knie deeg vir minstens 10 minute op ’n meelbestrooide oppervlak
tot lekker elasties. Plaas  deeg in ’n bak (taamlik groter as die deeg). Smeer ’n klein bietjie olie daaroor – dit verhinder uitdroging.

Maak bak met kleefplastiek toe en laat deeg op ’n louwarm plek rys tot byna dubbel die grootte. As dit nogal koud is, skakel ek my lou-oond op laag aan en laat die deeg daarin rys.

Knie die deeg af. Vorm ronde vetkoeke. Neem ’n hand vol gerasperde kaas en so 5 – 6 snye biltong en druk dit styf saam. Maak ’n holte bo in die middel van die vetkoek en druk saamgeperste kaas en- biltong in die middel van die deeg in. Druk die vulsel toe in die deeg en plaas vetkoeke op ’n bakplaat. Laat weer vir so 30 minute rys. Verhit olie in ’n kastrol.

Breek ’n klein stukkie deeg af om te toets of olie gereed is: As dit dadelik begin braai, is olie reg. Braai so 3 vetkoeke op ’n slag. Draai hulle om wanneer dit aan die een kant begin verbruin. Verlaag die olie se temperatuur en draai die vetkoeke nou en dan om. Hulle braai vir minstens 10 minute. Dreineer op kombuispapier.