Resepte

Coq au vin – hoender in rooiwyn

(8 porsies)

  • 8 dy-en-boudjiehoenderporsies
  • 6 tiemietakkies
  • 3 stukkies pietersielie, grofgekap
  • 2 lourierblare
  • 1 bottel (750 ml) rooiwyn
  • 15 ml olyfolie
  • 15 ml botter
  • 250 g repiespek (streaky bacon), in blokkies gesny
  • 10 salotte of klein uitjies
  • 125 ml hoender-aftreksel
  • sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
  • 300 g baba-sampioene

Plaas hoenderstukke, tiemie, pietersielie en lourierblare in ‘n groot bak. Gooi wyn oor. Maak toe met kleefplastiek en plaas oornag in yskas. Die hoender sal daarna ‘n rooi kleur hê. Verhit oond tot 180 °C. Haal hoender uit en droog af met kombuispapier. Hou wyn eenkant. Verhit olie en botter saam in oondkastrol. Braai hoender tot bruin. Haal hoender uit kastrol en braai
spek daarin tot effens bros. Voeg salotte by en braai vir so 2 minute saam met spek. Plaas hoender terug in kastrol en gooi die wyn oor, saam met tiemie, pietersielie en lourierblare. Voeg aftreksel by en geur met sout en swartpeper. Sit deksel op en plaas vir sowat 2 uur in warm oond. Voeg sampioene vir die laaste halfuur by. (As die sous te dun lyk, kan jy 15 ml mielieblom met 25 ml water meng en dit byvoeg. Kook vir nog so 15 minute tot verdik.) Sit voor met Franse brood.

Om te drink: ‘n Klassieke cabernet sauvignon