_MG_9486
Resepte

Die beste knoffelbrood nóg!

Saterdag is Erfenisdag, oftewel Braaidag, en g’n braai is regtig ’n braai sonder bier, biltong en knoffelbrood nie! Die geheim van daai smelt-in-die-mond-brood en die smake onder die krakerige korsie is die knoffel wat jy gebruik.

Bly tog weg van daardie geel knoffel in die olie … Gebruik vars knoffel wat jy self fynkap.

Jy het die volgende nodig:

• 12 klein broodrolletjies in aluminumpan
• 3 blokke fetakaas
• 5 knoffelhuisies, gekap
• 230 g (250 ml) botter, gesmelt
• paar lourierblare
• bakpapier vir oondbraai

Stap vir stap

_MG_9057

Stap 1

Verhit oond tot 180 °C. Gebruik skerp riffelrandmes en sny ’n kruis deur elke broodrolletjie – moenie dwarsdeur sny nie, net sowat 1 cm diep.

_MG_9068

Stap 2

Krummel die fetakaas in growwe krummels en druk dit in die snye wat jy in die rolletjies gemaak het. Jy kan ook cheddar gebruik of selfs parmesaan as jy luuks wil wees.

_MG_9071

Stap 3

Meng gekapte knoffel en botter saam.

_MG_9075

Stap 4

Skep geurige knoffel ruim oor die brood – dit gaan na baie lyk, maar skep alles oor.

_MG_9083

Stap 5

Pak die vars lourierblare bo-op die brood.

_MG_9092

Stap 6

Maak die brood toe met bakpapier en plaas alles op ’n oondroosterplaat. Bak vir 15-20 minute of tot goudbruin en bros.

_MG_9096

Stap 7

Geniet jou braaidag!

_MG_9486