jupiter_004x
Resepte

Ons wen-tamatiesmoor – hier’s die resep

Saki vertel: “Ek het in die Karoo grootgeword. Ma het altyd tamatiebredie gekook vir hot dogs (ons het nie tamatiesous en mosterd gedoen nie!). Ek is vroeg uit die huis, so ek moes myself noodgedwonge leer kook.

“Ek het ’n paar jaar in Taiwan gewoon (gaan skoolhou) en daar baie huiskosse gemis, altyd gefantaseer oor die tamatie-goeters, vetkoek, ensovoorts, waarmee ek grootgeword het. Ek hou nou skool in Pretoria, maar hunker na die platteland. Om die resep in te stuur was ’n taamlike effort, want dié soort goed doen ek nie van resepte af nie – ek kook bloot met wat in die huis/tuin/kruietuin beskikbaar is. Maar my vriendin het my laat sit, ’n resep laat uitwerk, dit laat toets en instuur. Dit was erg! Die la-a-ang kooktyd is wat my betref die grootste geheim, en dan die heuning en knoffel, waarsonder ek byna niks kook nie! Ek kook omdat dit lekker is en hou van huiskos, plaasgoed, outydse kosse, soetgoed. Ek’s al 22 jaar uit die huis en vertrek nou nog nie van daar af sonder my beskuit, koekies, koeksisters en fudge uit my ma se kombuis nie.”

DIE WENRESEP

 
SAKI SE TUISGEMAAKTE TAMATIESMOOR
•    5 groot, ryp tamaties
•    2 middelslag-uie
•    30 ml olyfolie
•    6 knoffelhuisies
•    4 takkies (so 5 cm elk) vars roosmaryn
•    growwe sout na smaak
•    45 ml gladde heuning
“Kruis” tamaties (druk met ’n skerp messie ’n kruisie aan die onderkant). Sit tamaties in ’n kastrol en gooi ’n ketel kookwater oor. Glip skilletjies af en sny kroontjies uit. Sny tamaties in blokkies. Skil uie en sny in fyn blokkies. Gooi tamaties en uie in gietysterkastrol. Voeg olyfolie by. Kook teen medium-hitte vir sowat 1 uur. Druk knoffel met ’n breë vleismes plat, verwyder skilletjies en breek in growwe stukke. Gooi by tamaties in kastrol. Pluk roosmaryn, spoel af en gooi heel takkies by. Voeg growwe sout na smaak by. Kook vir nog ’n uur en proe of die smoor “gaar” en deurgekook is. Roer heuning in en laat dit deurkook. Laat prut vir nog so 15 minute. Proe weer of alles gaar genoeg is. Indien nie, laat nog 15 minute kook.

Wenke

  • Sout, growwe peper en heuning kan gewissel word na smaak.
  • Gebruik as pizzabasis, pastasous of in maalvleisgeregte. Ook lekker op ‘n roosterbroodjie of saam met ‘n gebakte eier.
  • Hierdie smoor vries baie lekker, so moenie dat die gaarmaaktyd jou afsit nie. Ek hou sommer altyd ‘n paar bakkies in die vrieskas vir daardie onbeplande ek-het-smoor-nodig-aande (dit werk vir byna alles!).