Resepte

Dril en gril

Ek’s ’n dapper muis. Buiten lughawens, lugleegtes, slakke, swembaddens, selluliet, afval, tente, spatare, openingsaande, wortelslaai, kampeerterreine, blou meubels en die toekoms van hierdie land, is daar bitter min wat my skrikmaak. En (hoera!) soos ek ouer word, word my vrese al hoe minder. Met hulp van my kosvriende en ’n paar ensiklopedieë is nog een van my nagmerries onlangs ter ruste gelê.

Ek was ’n kleuter toe ek die eerste keer ’n kerkbasaar binnegelei is. Ek het gespog met ’n blokkieshemp, kadoesbroek, bruin sandale en twee dik beentjies. Daar was honderde opgewonde mense in die saal. Ek was te kort om te sien wat op die tafels uitgestal was, maar kan duidelik die reuke onthou: klapper, kaneel, kookolie, pannekoek en gemmer. My ma en ’n klomp tannies was doenig agter ’n tafel, my pa het my gesleep van gesprek tot gesprek.

Uiteindelik het ons voor ’n tafel tot stilstand gekom. Agter die tafel was ’n máááér vrou met hangogies en ’n frommelnek. My pa het geld uit sy sak gehaal en sy hand uitgesteek. Die spookvrou het twee plastiekbakkies aan hom oorhandig en hy het een na my uitgehou. Binne-in was die einde van my onskuldige kinderjare, ’n sagte, pienk, skuimerige, drillende homp waarin ’n wit lepeltjie regop gestaan het. Ek het uitgebars in trane. My pa het die bakkie gegryp en ’n ander een in my hand gestop. Binne-in dié een was ’n wit gewas met blokkies gekleurde jellie. Dit het gelyk soos die skoen van ’n baie ou hippie. Ek het nog harder gehuil. ’n Halfuur later het my ma my stilgekry met ’n groot stuk hoenderpastei.

Die kind was nog altyd vreemd, het een vrou vir ’n ander gefluister. Nou’s hy bang vir jellie! Wat maak ’n mens? Jy maak beter kos, dis wat. Maar as kind het jy nie ’n sê of die nodige inligting nie, net vermoedens. So gril ek dekades aaneen, verversing of verpligting, vis of vlees, vriend of vyand, as hy dril, is ek op pad. En hoekom? Sover dit smake aangaan, is daar nie rêrig reg of verkeerd of goed of swak nie, daar is wel gesond of ongesond, natuurlik of nagemaak, vars of verwerk en aangenaam of vieslik.

En dis waar ek mistrap met drilpoeier (en deesdae, drilvelle). Jare lank verslind ek die diereryk tydens voor- of hoofgereg, maar ’n ondier in my poeding is die gril van alle grille, erger as ’n nael teen ’n swartbord of groen oogskadu in ’n ouetehuis. Skuimpoeding, sneeupoeding, yskastert en vrugtevorm is deel van ons geskiedenis, maar so ook bloedige oorloë, korrupsie, verraad en vele ander skandes.

Wil jy jou vriende onthaal of jou matras vervang? Soek jy ’n heerlike smaak of brou jy ’n buiteband? En het jy ’n idéé waaruit kommersiële drilpoeier bestaan? Meestal: 27% kollageen uit die gebeentes van diere, 44% byprodukte van varkvel, 28% byprodukte van leer of beesvel en 1% van iets wat niemand aan my wil verduidelik nie. Vir kosjer en halaal drilpoeier word byprodukte van vis gebruik.

Nog lus vir die poedingtafel? Somtyds verg die aanbieding wel ’n bietjie opstandigheid en dan is daar verskeie metodes om so ’n dis op die been te bring.

• Appelpektien: Verpulp gekookte appels en plaas in ’n doek. Kook die helder sap wat uitdrup met ’n klein bietjie suiker en roer by die gereg.
• Vou geklitste eierwit by res van bestanddele.
• Klits sitrus by room of roomkaas.
• Verkoel individuele porsies in kleiner houers.

Wat verveling betref, val sjokolademousse in dieselfde kategorie as crème brûlée of roomys, maar as bestanddeel is dit weergaloos. Ek sluit af met een van my gunsteling-resepte vir ’n gestolde triomf:

Swartwoud-mousse

  • 200 g donkersjokolade
  • 100 g melksjokolade
  • 15 ml kersielikeur
  • saadjies van 1 vanieljepeul
  • 3 eiergele
  • 250 ml vars room 
  • 4 eierwitte

Smelt die sjokolades oor warm water. Verwyder van hitte, roer likeur en vanieljesaadjies by. Klits eiergele en roer by. Klits room tot ferm punte en vou by. Klits eierwitte tot ferm punte en vou by. Plaas oornag in yskas.

  • Bedien in lang glase.
  • Vervang room met roomkaas vir ongebakte kaaskoek.
  • Wissel af met beskuitjiestukke en swartkersies vir trifle.
  • Sny sjokolade- of vanieljekoek in dun lae, wissel af met die mousse. 
  • Bedien in klein filodeegbakkies, versier met wit sjokoladekrulle.
  • Louisa van Vuuren

    Nataniël is my held! Hy kry dit reg om ‘n allerdaagse gebeurtenis of ondervinding op so ‘n humoristiese manier uit te druk dat ek altyd lag, al is dit soms met ‘n traan. Hy het regtig ‘n baie spesiale gawe!!!! Ek stem ook meestal 100% saam met sy sienswyse oor aktuele sake.

  • Soenet

    So bek moet jam kry. Vertel vir my man JELLIE is nie poeding. Hy sal dit waarskynlik saam met sy kos en op sy toebroodjies eet as ek hom die geleentheid gun. Maar vir poeding kan dit nie deug nie. Dan smeer ek liewer ‘n stuk witbrood jam en gooi vla oor. Dit kan daai holkol vul.