FOTO Olympics

FOTO Olympics

Resepte

Eet soos ’n kampioen: Usain se hoender-nuggets

Vanjaar het Usain Bolt net weer eens bewys dat hy, soos onse Wayde van Niekerk, ’n supermasjien op die atletiekbaan is. Met sy lang bene en reuse-treë hardloop Usain toe sowaar in drie agtereenvolgende Olimpiese Spele met die 100 m-goud weg! Een van dié kampioen se gunsteling-geregte is hoender-nuggets en nou kan jy dit ook eet.

genoeg vir 6

MANGO-EN-PYNAPPELSOUS

• 250 g pynappel, in stukke gesny
• 250 g mango, in stukke gesny
• 1 groen brandrissie
• 125 ml water
• 15 ml bruinsuiker
• sout na smaak
• 30 ml witwyn-asyn

USAIN BOLT SE HOENDER-NUGGETS

• 4 ontbeende hoenderborsies sonder vel
• sout en varsgemaalde swartpeper
• 70 g (125 ml) koekmeel
• 2 eiers, geklits
• 500 ml droë broodkrummels
• olyfolie
• mikrokruie
• vars lemmetjies

MANGO-EN-PYNAPPELSOUS

Plaas pynappel, mango en brandrissie in voedselverwerker. Verpulp tot glad. Gooi mengsel in kastrol en voeg water, suiker, sout en asyn by. Bring tot kookpunt en kook 5 minute oop. Skep uit in bak en laat afkoel tot kamertemperatuur.

HOENDER-NUGGETS

Verhit oond tot 180 °C. Plaas hoenderborsies tussen twee lae kleefplastiek en kap platter met ’n rolstok. Sny borsies op in happiegroot stukke. Geur met sout en peper. Gooi meel in plat bak en bedek hoenderstukke met meel. Doop in eier en bedek dan goed met krummels. Verhit ’n klein bietjie olyfolie in ’n pan. Braai hoederstukke weerskante tot bruin – nie alles op een slag nie. Pak in ’n enkellaag op ’n bakplaat en plaas in oond vir sowat 15 minute. Plaas op opdienbord en sprinkel mikrokruie oor. Sit voor saam met lemmetjies en sous.

Usain Bolt se hoendernuggets met mango-en-pynappelsous

Usain Bolt se hoender-nuggets met mango-en-pynappelsous
FOTO Micky Hoyle

Het jy geweet?
Tydens die 2008-Spele in die Chinese hoofstad Beijing het super-atleet Usain Bolt 1 000 hoender-McNuggets in 10 dae geëet. Hy het begin met ’n boks van 20 nuggets per dag. Kort daarna was dit 100 nuggets per dag – twee bokse vir ontbyt, nog ’n boks vir middagete en nog ’n paar vir aandete, saam met tjips en appeltert. Chinese kos het hom duidelik nie aangestaan nie. Deesdae eet hy glo baie meer groente.

Bron: www.independent.co.uk