Resepte

Frikkadelle met tamatiesous

(sowat 6 groot frikkadelle)

  • 500 ml tamatiesous-resep (sien verwante artikels)
  • 400 g beesmaalvleis
  • 400 g varkmaalvleis
  • 3 snye witbrood
  • 2 eiers
  • 2 takkies vars origanum, fyngekap
  • 250 ml gerasperde parmesaan-kaas
  • ’n hand vol pietersielie, fyngekap
  • sout en vars gemaalde swartpeper na smaak

Meng die twee soorte maalvleis goed. Plaas die brood in ’n bak en bedek met water. Laat die brood sowat 10 minute lank week – dit sal lekker uitswel. As daar nog baie water in die bak is, gooi dit af. Meng die brood met die vleis. Ek doen dit gewoonlik met my hande. Voeg res van die bestanddele by en meng goed. Geur met sout en vars gemaalde swartpeper. Vorm groot frikkadelle en plaas styf teenmekaar in ’n oondbak. Plaas die bak in ’n warm oond teen 180 °C vir 1 uur. Daar gaan sap uitbak, daarom haal ek die gaar frikkadelle uit die bak en pak dit oor in ’n ander bak. Gooi die tamatiesous bo-oor en sit terug in die oond vir sowat 15 minute. Sit voor saam met jou gunsteling-pasta, met gerasperde parmesaan-kaas of pecorino en gekapte pietersielie.